Zaza wys my haar boeke

Zaza wys my haar boeke met fotos. Op haar bed ‘n paar wolbeertjies, geskenke wat kom van oor ‘n paar jare.

Daar is fotos van toe sy vir Defy gewerk het, fotos van haar pa, ‘n buffel van ‘n polisieman en haar ma wat hy tot

haar dood toe aangerand het, haar boeties, vriendinne saam met haar afgeneem in Monte Carlo nagklub, en ook

haar suster wat vroeg aan die lewe opgegee het. Ek lees ook ‘n skryfboek met die begin van haar storie. Sy kan

skryf, sy kan haar lewensverhaal vertel, en ek raak opgewonde. Sy wys my ‘n boek deur ‘n Bulgaarse Boris onder

die titel African Dreams (maar in Bulgaars); ‘n boek opgedra aan haar. Hy was een van haar voormalige kêrels.

Daar is ‘n inskripsie in Engels voorin oor hoe ‘n mens die teëslae van die lewe oorleef.

En ek dink aan hoe die storie van Zaza vir my begin het om die eetkamertafel: trane het in haar oë opgewel.

Dit was natuurlik nie die begin van my en Zaza nie, net die begin van haar storie. Ek het haar een middag in

die Costa do Sol ontmoet. Ons oë het ontmoet op daardie dag. Ons oë het lank gespeel, maar ons het geen woorede

gewissel nie. Daar het so ‘n rooigesig Engelsman in sy sestigs langs haar gesit, wat opgewonde probeer meepraat oor

musiek, die musiek van sy keuse. Jazz het in die agtergrond gespeel.

Ek het haar die volgende middag genader, gevra of ek kan sit waar sy sit. Sy gee nie om nie het sy gesê, en soos

alle gesprekke van die aard het dit begin by die uitruil van name en vanne. “Waar kom jy vandaan?” “Het jy kinders?” ens.

en uiteindelik “Wil jy saam met my kom eet vanaand?”. “Nie vanaand nie, wat van more aand?” “Okay, so sewe uur.”

Die volgende aand sewe-uur is alles so romanties moontlik ingerig, en ‘n spesiale resep van hoender, piesang en neute

voorberei. Dit het verskriklik gereën die aand. Sy het nooit opgedaag nie, en sy het nooit in die volgende weke kom sê sy is

jammer oor die mislukte afspraak nie, maar ek het nog haar telefoonnommer gehad indien dit eendag te hande kom.

Die werklike ontmoeting het ‘n paar weke later gebeur. Ek was die middag by Costa do Sol besig met ‘n skuimerige bier

in die donker hoek toe sy daar inwals en ‘n appletiser bestel en toe buite by haar vriendin Nellie gaan sit. Ons het nie eers gegroet

nie. Maar ek was honger. Met my bierglas leeg het ek die pad gevat na ‘n pasteiwinkel daar naby. In die venster van die pasteiwinkel

was daar sulke lap poppies. Ek het ‘n pienk varkie met ‘n baba varkie vir tien rand gekoop. Oppad terug na my woonstel, soos ek

verby haar sypaadjie-tafel loop, druk ek die pienk varkie in haar hand, en loop woordeloos verder. Die volgende dag was ‘n

goeie dag om van die telefoonnommer gebruik te maak “Ek is die ou wat die pienk varkie in jou hand gedruk het, onthou jy my?

Is jy lus vir hoender vanaand? ens.” Elk geval sy het nie van die uitnodiging gebruik gemaak nie, maar die volgende dag by

Costa do Sol rondom ‘n tafel op die sypaadjie, met Nellie ook by, was dit maklik om kontak te maak.  Hierdie keer het ek

haar uitgenooi en ons het ‘n afspraak gemaak.

Ek het haar by haar woonstel gaan oplaai. Sy het nie kans gesien vir ‘n uur se ry na Tongaat toe nie, maar sy hou van oesters.

Ons is na die Fish Company op die waterfront. Oppad soontoe vertel sy sy studeer Elektriese Enginieurswese, en onmiddellik

weet ek hier is iemand spesiaal. Ons sit op die stoep met oesters op  ys en skepe wat die hawe in- en uitvaar. Sy vertel van die

dinge waarvan sy hou, die hoogtepunte in haar lewe – die romantiese Kroaat wat sy nie kan vergeet nie, al is hy iewers op ‘n skip

op een van die oseane. Sy hou van boeke, die natuur en komedies: Leon Shuster. Ons vind mekaar en besluit om nie reeds die aand

in die bed te spring nie. Ek laai haar by haar woonstel af.

In een van die daaropvolgende dae het sy vir die eerste keer by my woonstel gekom. My boeke en plate moes ‘n groot

indruk gemaak het. Ek het spaghetti gemaak terwyl swy praat oor haar lewe. ‘n Ongelooflike storie.

Sy haat haar pa, maar daar was ‘n tyd toe sy hom veridealiseer het. Hy het haar ma gereeld aangerand. Sy het gedink dit

is maar hoe dinge in die lewe hoort. Haar ma was verstoot deur die pa se familie. Hulle was landelike mense met ‘n afsku vir alles

van die stad. Hulle het gereeld hulle afsku gewys deur die ma en kinders soos honde te behandel. Hulle was nie toegelaat om aan

dieselfde tafel te eet nie, of om saam vleis te eet wanneer daar vleis was nie. Uiteindelik is hulle stad toe, weg van die landelike familie.

Hulle is op neergesien met die gesegde van mense wat in hulle huis kak (stedelike huise het toilette in die huis).   Die probleme tussen

die pa en ma het begin toe die ma aangedring het om te gaan werk om al die skoolbehoeftes van haar kinders aan te koop. Sy het vir

‘n karige salaris by blankes in die huis gaan werk as skoonmaker. Toe sy weier om haar salaris aan haar man te oorhandig, is sy uitgekryt

as ‘n hoer en van hier af het hy net heeltemal beheer verloor. Hy het haar suster voor Zaza verkrag met ‘n ma wat hulpeloos teen die

kamervenster haar woede uitgeskree het. Hy het ‘n absolute haat teen die skool ontwikkel. In matriek het hy al Zaza se boeke en

haar skoolklere verbrand. Sy is gedwing om onder ‘n straatlig te studeer omdat hy geweier het om haar toe te laat om die elektrisiteit

te gebruik. Hy het sy plate so hard as moontlik die heel nag deur gespeel sodat sy nie kon konsentreer nie. Hy het haar fisies probeer

doodsteek met ‘n mes toe sy haar ma teen sy aanvalle probeer beskerm het.

Uiteindelik het sy van die huis weggeloop, by vriende waar sy in trauma oornag het, is sy swanger gemaak. Tydens haar

swangerskap het sy by die technikon ingeskryf vir die engineursdiploma. Intussen het haar ma en haar suster gesterf. Sy het op

die strate beland. By gesellinklubs het sy haar eerste geld verdien.

Ons praat oor haar boek. Sy maak die opmerking dat selfs as sy in die tronk is, sal sy daarmee voortgaan. “Tronk?”

Daar hang ‘n vonnis oor haar kop. Daar was ‘n bakleiery in een van die klubs. ‘n Blanke prostituut was ongelukkig toe haar kêrel

Zaza genader het om mee te dans. Sy het Zaza aangeval. Zaza het probeer vlug. Sy is agternagesit deur drie vroue. Sy het met

‘n bottel haar teëgesit. ‘n Indiërprostituut wat beseer is, het haar laat arresteer. Sy kry sesmaande gevangenisstraf, opgeskort vir

vyf jaar. Die magistraat is ook  Indiër. Dit word duidelik ‘n rasse ding. Zaza se oë vul weer met trane. Sy lyk soos Naomi

Campbell. Zaza wil selfmoord pleeg, sy wil haar eie keel afsny. Net haar kind laat haar voortgaan met die lewe. “Ek is net ‘n niks”

sê sy. Ek het die begin van ‘n boek gesien, en dit lyk goed. Ek weet dit gaan goed wees. Maar ses maande in die tronk vir ‘n

geveg tussen vroue in ‘n nagklub? Die tronke in Suid-Afrika is oorvol. Soms lyk dit of moordenaars makliker loskom as mense

wat onbenullige misdade pleeg.