Onderwêreld

Hy het sy hare met die kruiesjampoe gewas, sy kopvel gekrap teen ‘n gejeuk. Die heeldag was hy in sy donker kamer. Of onder die kombers of hy het by die venster uitgekyk na die verarmde mense in die straat daaronder. In die oggend, vroeg, dit was nog donker, kon hy dit nie regkry om oor te gaan tot aksie nie, en hy is nie werktoe nie. Hy het eintlik tot sy verbasing heel goed gevoel. Hy het vyf dae gelede opgehou om sy pille te drink en het gedink dat sy bloeddruk al deur die dak moes wees, maar tot sy teleurstelling was die onderste meting 91. Baie ver van die baie hoë tellings wat hy al gehad het. “Miskien was dit die roomys wat ek gisteraand in Hendrik se motor geëet het,” dink hy. Elk geval hy het die hele dag in die bed gelê en sy opsies oor en oor herdink. “Waarom aangaan met lewe? Wat is die sin van die lewe? Waarom het ek nie gesterf nie? Wat gaan gebeur as ek nie gaan werk nie? Watter betekenis kan ek nog uit hierdie lewe kry?”  Al die antwoorde is negatief.

Hy was die vorige aand by Hendrik – die sielkundige wat sy vriend geword het. Sy enigste vriend. Hendrik het hom kom oplaai en weer later afgelaai. Dit het die nag deurdringend gereën. Hulle het na ‘n film op Hendrik se  TV oor die duiwelse invloede op popmusiek gekyk. Hendrik het ‘n vis- en rys-mengsel gemaak en hulle het geëet. Hy het vir lang rukke na die woonstelle buite deur die kombuisvenster gekyk. Swart mense het die gebied oorgeneem. Dit begin lyk na Maputo het hy gedink. Hy het deur die aand al hoe beter begin voel. Selfs vir Hendrik belowe dat hy die volgende dag sal gaan werk.

Met die terugkeer na sy woonstel het Hendrik voor die pasteiwinkeltjie stilgehou en hy het ingehardloop en vir hulle elkeen ‘n roomys gaan koop.

Vanaand het Hendrik vir hom ‘n boodskap by die deurwag gelos. Hy gaan na die familieplaas die volgende dag. Hy het voorstelle van ‘n dokter gemaak vir wie Johan moes gaan sien.. Johan wil nie/kan nie gered word nie. Wat sal die doel wees van ‘n dokter? Hy het die briefie opgefrommel en gewonder of hy ooit weer vir Hendrik sal sien?

 

6/8/2002

Hy neem sy bloeddruk. Dit is 201 oor 136. Hy maak hom gereed vir die dood. Dit was ‘n harde dag by die werk. Sy arm voel styf in die bande van die bloeddrukmasjien. Daar is sagte klaviermusiek op die radio. Waar gaan dit hom tref? Hy was by die dekaan. Hy het eers net gehuil. Hy wou vir hom sê “Bevry my net. Laat my gaan. Ek kan nie meer werk nie. Ek moet nou net rus.” Maar die dekaan het al die praat werk gedoen . Hy kon niks sê nie. Later die Exco vergadering. Renuka is verlief op haar eie stem. Sy wil ‘n meer professionele exco. Alles moet opgeteken word. Die agenda moet beskikbaar wees voor die vergaderings en later het hy net uitgestap. Hy is ‘n mislukking. Die oggend het begin met ‘n telefoonoproep van Liesbet. HY het gesê sy kan maar die huis verkoop (Die een in Daleweg), miskien ook die woonstel en hy het gehuil/lag. Wat dan van die kind. Tembelani.

 

13/8/2002

Dit is ‘n mismoedige laat-middag, grys in kleur en gemoed. Die 5 uur nuus. Hy kan dit nie onthou nie. Sy korttermyn-geheue bestaan nie. Die naweek was hy saam met Shane en Clair by ‘n huis by Shelley-Strand op die Suidkus. Hulle het meeste van die tyd op die stoep gesit. Soms is Shane en Clair deur die struike na die strand en see. Ander tye het hulle geëet. Vis gebraai op die stoep en gedrink. Of deur boeke geblaai – ‘n boek oor die skilder Tapiez – Sy styl het verander van representatiewe werk tot heeltemal nie-representatief met titels soos “twee vierkante, bruin en geel”. As dit met skryf ook moontlik was – taal wat nie-representatief is.

Hulle het Sondag teruggekom. Gestop by die River Hotel by Amanzimtoti. Hulle het twee ciders en een bier bestel – die groot liter bottels en in die son langs die rivier gesit en net die verval geniet soos die ander mense daar, en die sanger het sy liedjies gesing.

 

17/8/2002

Hy sit op sy bed. Die radio lawaai. Hy maak sy skoenveters vas en hy snik. Daar is geen rede voor nie, behalwe dat dit Saterdag is. Tyd by homself. Hy kan dink. Dink oor niks. Dink oor die lewe wat so vinnig verby is. Nie lank terug nie was hy die belowende jong akademikus en digter. Nou is hy ouer. ‘n Professor, maar niks. Hy kan skaars ‘n sin formuleer na die beroerte, en hy is heeltemal alleen. Uit sy vrou, uit sy minnares, uit sy vriende, uit sy ouers, uit sy kollegas.

Uiteindelik staan hy op en loop na die minah-busstop en wag vir ‘n paar minute en besluit dan om bank toe te loop en sy tjek te gaan deponeer. Hy stap weg in sy eie gedagtes in Smith Straat. Hy het die tjek in ‘n boekekatalogus in sy een hand. Hy verstom hom aan die geboue. Dit val hom op dat hy nie meer die restaurant wat nie meer daar is nie in ‘n systraatjie se naam kan onthou nie – die systraatjie se naam kan hy ook nie meer onthou nie –. Die naam van die restourant val hom pas op “Aura de Mar” of soiets. Dit was ‘n Portugeuse restaurant en oorkant die straat was ‘n Gesellinsagentskap: Dream merchants. Die stad het heeltemal verander, verarm. Soveel plekke het toegemaak of geskuif. Dit is soos ‘n spookstad. Net die armes nog op die strate. Hy sien ‘n sigaretstompie platgetrap in die straat. Hy koop piesangs en nartjies by ‘n swart tannie. In die bank vul hy al die gegewens op ‘n depositostrokie in en val dan agter in die ry in.

 

19/8/2002

Vanoggend kon ek nie sover kom om werk toe te gaan nie. Dit het gevoel of die are in my kop gaan bars. Het oorweeg om weer bloeddrukpille te drink. Later in my pyjamas voor die rekenaar gaan sit en werk aan my lesings oor koning Shaka en die Setlaars. Gisteraand was Hendrik hier. Hy het vertel van sy vakansie by sy broer in Mosambiek. Hy het met die Pantherra Azul gegaan. Amper die bus verpas by die doeane op die Mosambiekgrens. Ons het ook oor my gesondheid gepraat. Hy het gewaarsku oor die gevolge van my nie pille drink nie: verlamming met ‘n pap armpie. Vir my sal die dood genoeg wees. Later vanoggend het ek na die OK basaar gegaan en ‘n pakkie koekies en jogurt gekoop. Ek het ook vir Zaza gebel. Sy het baie besig geklink.

 

20/8/2002 (Woensdag)

Soos elke dag was hy al halfvyf wakker.  Hy het badwater laat inloop, vir ‘n halfuur in die bad gelê en toe aangetrek, en sonder om iets te eet, die pad werk toe gevat. Daar voor die rekenaar gesit. Op boodskappe gereageer. Die telefoon lui ongeveer tien uur. Dit is Zinhle. Sy pleit. Sy is in die tronk. Hy moet haar asseblief kom haal. Haar borgtog is R500. Hy kan eers gaan na sy vergadering. Hy woon die sinlose vergadering by oor hoe om meer studente na die universiteit te trek. Niemand het werklike idees nie. Uiteindelik kom dit tot ‘n einde. Hy stap na die outobank. Trek ‘n duisend rand en vat die pad na die tronk. Deur die vensterruit met die telefoon word hy toegelaat na die wagkamer en daarna op ‘n bus na die vroueafdeling, dan met die trappies op na die eerste afdeling, waar hy met die vrouebewaarder oor niksseggendhede praat en wag op Zinhle. Uiteindelik daag sy op. Haar klere en hare is deurmekaar. Dan weer af. Vorms word ingevul en sy vyfhonderdrand word van hom afgeneem en hy wag vir haar buite die gebou. Hulle loop saam deur die voorste hek. Niemand keer hulle nie. Hulle ry in stilte terug na Durban. Hulle gaan eet by Spur. Hy gooi haar af by Keith se plek. Ry terug na sy woonstel. Probeer insluimer. Die interkom maak hom waker. Hy stap na die gehoorstel. Dit is Prinses. Sy kom op na sy kamer. Sy is maerder. Sy was ook in die hospitaal. Vir ‘n aborsie wat verkeerd geloop het. Sy is verskriklik honger. Hy gaan koop brood. Hulle eet eier op brood. Nadat hulle teen mekaar gestaan het besluit sy om eerder te gaan. Hy gaan slaap weer totdat Hendrik hom halfagt buzz. Hendrik kom op. Hulle drink saam tee. Die gesprek verander in ‘n sessie. Dieptes van die siel word weer bloot gelê. Hy kan nie onthou waaroor dit gegaan het nie.

 

23/8/2002

‘n Blikkie bier, drie glase rooi wyn en twee koppies koffie en kos waarvan hy nie die name ken nie, behalwe die gebraaide wors en varkvleis en fok wat maak dit saak. Hulle lag baie en verwissel wyshede oor allerlei onderwerpe. “die bobbejane is besonders, hulle weet nie hulle is geprogrameer nie” is sy bydrae tot die aand terwyl hy na sy skoene staar. Shari blaai deur ‘n boek oor Freda Karlo. Die Duitse professor lyk heelwat jonger met sy Shari en is heelwat meer op sy gemak sedert die vorige keer dat hy hom gesien het. Agter hulle is die bos en ver onder teen die hange van die vallei tussen boomblare deur die ligte van huise en bo in die hemel die volmaan en hy dink aan Spilile wat ‘n R1000 kom haal het en die kind wat ‘n waterblaas op sy agterkop gekry het. En hemel die lewe wat so sinloos geword het. More vlieg die Duitser en sy beminde terug na Duitsland.

 

25/8/2002

Hy het ongeveer 12 uur in die oggend wakker geword met die rumoer van ongeveer ‘n honderd Zioniste wat die straat af lawaai het in hulle rooi wit en swart of blou rokke. Toe het hy aangetrek. Langs die strand gaan loop. Hy was depressief en baie na aan trane. Met sy terugkeer het die deurwag vir hom gesê daar was ‘n vrou vir hom. Hy sien die naam van Faith geteken in die boek by Heinrich se woonstelnommer. Terug in sy woonstel het hy vir hom teewater opgesit en sy tande geborsel toe Faith opdaag. Sy het wit kolletjies om haar oë op haar wange en voorkop geverf. Sy skryf en vertel hom haar lewensverhaal. Dit het gewissel tussen universiteit, prostitusie en skryf van koerantberigte.

 

26/8/2002

Sy bloeddruk is 213 oor 133. Hy voel nie besonder sleg nie. Hy het vroeg terug na sy woonstel toe gekom. Sy werk raak al hoe meer ‘n las vir hom. Wat anders kan hy doen. Terug van die werk af het hy Checkers toe geloop en het daar vier hoenderstukke gekoop. ‘n bakkie yogurt, ‘n melksjokolade. Skermutselinge tussen Joodse studente en Palestyne het uitgebreek by die beraad vir volhoubare ontwikkeling.

 

27/8/2002

Hy het die oggend wakker geword met ‘n drukkende tandpyn en  kopseer en so met die seer tande sy klere aangetrek en met ‘n neus en pynende tanvleise gaan werk. Hy kan skaars onthou wat hy uitgerig het by die werk. Daar was Judith. Sy kan nie Zoe ondersteun met betrekking tot ‘n nuwe skeppende skryf-program nie. Zoe is by die Nasionale Engelse Letterkunde Museum in Grahamstown en kan nie verdedig nie. Hy sal dit tog op die Fakulteitsvergadering se agenda sit. Hy self dink ‘n skeppende skryf program is bruikbaar. Hy sou self daartoe kan bydra. Hy het vir Ewa ‘n lang klaende brief geskryf . Soveel klein en nietige dingetjies. As sy tande net nie so pyn nie.

 

1/9/2002

Hy het die afgelope paar dae, wat ryk aan insidente was, nie geskryf nie. Hy was te besig. Hy het Faith ka Manzi, die joernalis ontmoet. Hy kan skaars onthou hoe dit gebeur het. Sy het net een middag opgedaag en hulle het gepraat en sy het blykbaar bewondering vir hom, iets wat hy gedoen het. Hy weet self nie wat nie. Miskien is dit Zinhle se boek wat sy gelees het, en sy is self ‘n skrywer. Sy wil haar lewensdokument op sy rekenaar kom tik. Sy wil by hom kom bly twee dae in die week. Sy het inderdaad die Woensdag opgedaag. Hy het haar raakgeloop by die Wheel en hulle het saam gaan kruideniersware koop. Hoenderborsies en sy het sommer ‘n bottel rooiwyn ook bygesit. Terug in die woonstel het sy begin tik en hy het die kosgemaak. Sy het sy eensame ruimte binnegedring, aangedring op geld al is hy brandarm, in die nag het sy styf in sy arms gelê en Vrydag was sy nog steeds daar. Sy het uitgegaan na haar joint toe – Cool Runnings

n is daar buite iewers deur ‘n vrou en reusagtige man beroof. Deur die nag het sy met die polisie na die rowers gesoek met haar beserings, bytmerke op haar hand waarin sy aan die geld vasgeklou het en hulle het ook haar skoene geroof. Elk geval Zinhle het ook kom aanklop. Sy soek ‘n plek om haar klere en goed te stoor. Ek dink sy voel verlate. Nou sit hy hier en luister na die Doors, Faith is terug huistoe. Hy is armer. Hendrik is die naweek Port Shepstone toe. Hy wens eintlik hy was saam met Hendrik. Hy moet hom voorberei op die dood. Hy het nie mense nodig om sy aandag van hierdie sentrale ding af te trek nie.

 

4 Augustus

Met sy vinger krap hy tussen die droë pampoenpitte en hy dink. Vanmiddag het Spilile onverwags opgedaag. Faith was besig in die kombuis om spinasie te maak. Dit het buite gereën. Spilile het klein Tembelani dokter toe gebring. Hy krap in sy beursie. Nog R200 verdwyn. Daar is nie ‘n einde aan die

 

Datum? Woensdagoggend

Het Faith vanoggend hospitaal toe gery. Sy het ‘n klomp slaappille gedrink. Hoe het dit gebeur? Sy het Maandagaand die R700, wat hom tot die einde van die maand moes hou, uit sy beursie gevat en dit op verdowingsmiddels gaan mors. Hy het haar by die woonstel uitgesluit. Vanoggend net na ses het sy weer by die woonstel opgedaag, aan die deur geklop. Sy wil net haar goedjies kom haal het sy gesê. Ingekom. Hy weet nie mooi wat volgende en volgende gebeur het nie tot sy die pille in haar keel afgegooi het en al hoe nader aan sluimerland gekom het.

 

? Bloemfontein

Waarom oorval die treurigheid hom? Hy sit hier in die sitkamer van sy ouers se huis. Teen die sitkamermuur in die hoek is ‘n paar van sy klein skilderye uit die verre verlede. Op die TV die oopgesig met swart oosterse hare van die kunskafee aanbiedster.

Gister net na sy klas in Durban het hy kar toe geloop met sy ma agter die wiel en sy pa met sy wit stetsonhoedjie. Hy gaan sit agter langs die padkos en hulle vat die pad deur ‘n ver psigologiese ruimte.

 

Sondag

“A shit” sê hy en druk sy vingers in die trane van sy oë. Sy ouers is in die kerk. Hy is ‘n mislukking. Gezoem van ‘n brommer en die stemme van sy ouers wat terugkeer van die kerk. Die ketel kook. “Plaas jy sommer maak” sê sy ma.

 

Hy gaan na sy kamer. Oor die radio ‘n klassieke fluit wat die siel laat beweeg tussen onsigbare vlinders en velde en hy dink aan die dood. Die lyk wat lê, die bewegingloosheid wanneer hy nie meer homself is nie. Dit is ‘n fluit en ‘n klavier. En hy dink aan lank terug; aan Rosa en Tim vir wie hy altyd gaan kuier het, en die groot argumente oor kuns in Tim se ateljee. Tim het pastelskilderye gemaak in die Impressionistiese styl en daar was altyd geargumenteer oor die tradisionele en die moderne

 

 

12 September

Oral op die vloer die klein geel slaappilletjies wat Faith by haar keel afgedwing het. Hy het vir Heinrich gekontak om haar te gaan sien in die hospitaal. Sy het haar naam by die hospitaal opgegee as Van Wyk het hy gehoor toe hy die hospitaal geskakel het om uit te vind hoe dit met haar gaan. Gister was 11 September die herdenking van die bombardering van die World Trade Centre in 2001. Hy was in Essen op die dag die vorige jaar.. Hy het die nuus gehoor in ‘n klein Turkse winkeltjie en hy onthou hoe al die mense op hierdie dag ‘n doodse voorkoms gehad het. Dit was ‘n onwerklike dag.

 

5/10/2002

Dit is Saterdag. Hy is met ‘n monster in sy kamer opgesluit. Die monster is eensaamheid. Hy het ‘n eier gebak, ‘n brood gesmeer en gehuil Hoe maak mens weer kontak met mense uit die verlede van ander stede en wie se lewens heeltemal verander het? En hy dink aan sy ma en pa, en dat sy pa baie oud word en miskien nie meer lank gaan lewe nie. Op hierdie laat stadium van sy lewe het hy hulle onvoorwaardelik lief. Wil hy soos ‘n kind by hulle lewe. Maar daar is altyd trane in sy rooi oë en sy gesig is skeef getrek. Hierdie is die tyd van die nuwe politiek, die politiek van verval en armoede en van groot geld maak deur die maatskappye. Dit is die tyd van sogenaamde bevryding, dit is die eentwintigste eeu. Die eeu waarin alles begin skeefloop. Om dood te gaan is so eenvoudig. Hy het drie kinders gemaak in sy lewe. Twee by sy vrou wat nou in Kaapstad leef en een by die swart vrou, Spilile, wat nou met die kind in die township leef in ‘n huis wat hy vir haar gekoop het. Sy is mal oor die kind en behandel hom soos ‘n koning met die geld wat hy vir haar elke maand gee. Hy kan nie vir sy ma en pa van die kind vertel nie. Wanneer hy weg is van hulle dan dink hy altyd aan hoe hy dit vir hulle gaan vertel, maar wanneer hy by hulle is droog die woorde op in sy keel. Hy is so eensaam hier in Durban. Hy is alleen en kan homself nie aan die werk kry nie. Hy dink net voortdurend met trane sonder dat hy weet wat die rede vir die trane is; miskien is dit ‘n natuurlike gevolg van die “stroke”, hy het die Afrikaanse woord vergeet. Hy vergeet so baie en so maklik in hierdie tyd.

Gister het hy op die bad se rand gestaan en ‘n nuwe gloeilamp by die dak ingeskroef. Hy was so bly oor die lig weer in sy woonstel. Die hemelruim oor die see is wit en die palmboomblare op die hotel se balkon waai skeef in die wind en die mense in die straat word gestoot deur die krag van die wind.

 

Sondag

 

Buite is die strate nat van ‘n ligte reën en dit begin donker word. Hy het angstig na die ou wit vrou met grys hare en ‘n groot wit handsak gekyk. Hy het gekyk hoe ver sy in die straat sou vorder met die handsak, maar sy het haar bedink en weer omgedraai. Gister het Hendrik hom opgelaai, gesê hy moet sy pajamas en tandeborsel saambring. Hy gaan slaap die aand by Hendrik. Maar eers is hulle na J op die Bluff. J se paranoiese toestand is vinnig besig om agteruit te gaan. J wil nie meer sy pille drink nie. ‘n Vreemde mag het afluisteringsaparate in sy tande. Daar is altyd ‘n buzz in sy ore en hy wil weet of ons dit ook ervaar. Na ‘n ruk gaan hulle na sy kamer en skiet met ‘n rewolwer na ‘n teiken op die muur terwyl ‘n klassieke konsert oor die radio speel. Hy mik met sy bewende hande en is ‘n useless skut en wil net weg uit die neerdrukkende atmosfeer van J se bedompige kamer. Daarna het hulle langs die see gaan loop. Hy was stil meeste van die tyd. Hulle het gaan sit. Hy eenkant. Het die die klein krappe dopgehou wat tussen skulpies rondskarrel by die watermerk. Toe het hulle teruggeloop en afskeid geneem van J wat op sy motorfiets terug is na sy huis. Hy en Hendrik het op die gras gesit en Italiaanse roomys geëet en gekyk na die werkersklas witmense met hulle spesifieke dialek, elke sinnetjie bevat die woord fuck en orals lê daar bierbottels. Toe is hulle na Hendrik se woonstel. Dit was nie duidelik waar hy sou slaap nie, maar Hendrik het gesê hy moet sy goed op sy bed neersit, en hy het al begin dink hoe hy sal moet maak  om uit die situasie te kom. Hendrik het ‘n lekker kêrrie met heelwat groente, boontjies en wortels, in gemaak. Hy het vir lang rukke net na die woonstelle buite gekyk, veral na die bewegings van mense. Die gebied het so indringend verander sedert hy in die vroeë tagtigerjare ‘n woonstelletjie, nie ver daarvandaan af gehuur het. Die hele buurt is nou swart. Dit begin die karakter van Maputo aanneem. En hy het gewonder oor die wit mense wat eers daar gebly het. Waar is hulle nou. Hendrik het vertel van die baie wat nou in die Ark of in die Salvation army woon. Hy sien hulle as sy pasiënte. Hulle staan op en gaan kyk TV en Hendrik het vir hom ‘n bed op die vloer opgemaak. Hy het depressief wakker geword. Uiters depressief en was weer in een van sy huilbuie. Hendrik het gaan sit oorkant hom en ernstig na hom gekyk en vrae gevra en hy het los en vas gepraat oor die dinge wat hy kan identifiseer as dinge wat hom pla: daar is die probleem van die kind wat hy nie aan sy ouers kan noem nie. Dit mag dalk sy pa doodmaak. Daar is die probleem van die feit dat hy nie sy motorlisensie het nie. Daar is die feit dat hy nie meer voel vir sy werk nie.

Daarna is hulle na Musgrave sentrum toe was Hendrik na plastiekblomme gesoek het, en daarna het hulle pizza geëet. Dit was besonder lekker en hy het moeg begin voel.

In die vroeë aand met sy vensters oop oor die see en die geluide van die straat maak hy tee, druk die teesakkie teen die kant van die koppie met kookwater en verbeel hoe hy klavier speel vir die rektor.

 

Dinsdag 8/10/2002

Noudat hy daaraan dink besef hy dat sy vriend Hendrik ‘n hermafroditiese smaak het: seuns met lang penise en vrouegesigte, en vroue met die skouers van mans.

 

Woensdag 9/10/2002

Hierdie oggend het hy laat geslaap. Die radio was aan. Die agtuurnuus. Wat het vandag gebeur? Hy weet, maar hy weet ook nie. Hy het reeds vergeet. Die ….(direkteur) van die reserwebank het verwys na inflasieteikens en die verhoging van rentekoerse al weer indien die rand op sy huidige vlakke bly. Dit klink na bog. Hoe sal die rand op huidige vlakke bly? Buite die hawe lê ‘n string skepe.

Die vraag in sy kop, terwyl hy die skottelgoed was, is of hy op die ouderdom van vyf-en-veertig moet aftree en dan by sy ma en pa gaan bly. Sy pa het reeds twee hartomlyningsoperasies gehad. Hy sal na sy ma kyk tot hulle in die grysheid wegraak.

Later in die oggend gaan hy Johannesburg toe vlieg, weer terug in die werklikheid in.

 

Sondag 13 Oktober

Marcel het hom met sy ou mercedes na die lughawe geneem, en saam met hom afgeklim en hulle het by ‘n lughawe kafee ‘n vleispasteitjie en ‘n … met … koffie bestel. Hy het gevoel hoe hy nie kon praat nie toe hy vir Marcel groet. Hulle is al so lank baie goeie vriende.

 

Dinsdag 29 Oktober

Hierdie oggend het hy vroeg saam met Faith die pad gevat. Hulle het saam opgeloop in Smith Straat. Hy oppad na sy sielkundige wat hom vroeg in die oggend wil sien, en Faith oppad na haar huis toe. By ‘n winkel gaan staan Faith skielik. Sy wil ‘n koerant koop en dui met haar liggaam dat hy die geld moet voorsien. Met teesin voel hy in sy sakke en kom agter dat die geld in die sak van sy onderbroek is. Hy verduidelik vir haar dat hy nie sy geld het nie. Met die aanloop herhaal hy dit ‘n paar keer tot hy uiteindelik verduidelik dat die geld in sy onderbroek is. Hulle gaan staan by ‘n koffiekroeg, besluit om in te gaan. Binne gaan sit Faith by ‘n tafel en hy loop na die toilet. In die toilet haal hy sy beursie uit die sak van sy onderbroek en loop dan terug. Sy bestel vir haar ‘n ontbyt met twee eiers en hy ‘n koffie. Hy gee vir Faith ‘n R50 on die rekening te vereffen en ook as taxi geld. Sy kos hom baie geld. Is aan die einde van die dag duurder as ‘n hoer. Hy loop na Escovil House waar die sielkundige se deur toe is, maar say is blykbaar al reeds daar. Daar is reeds heelwat wagtende pasiente. Uiteindelik word hy in haar kantoor toegelaat. Hy wag ‘n paar minute terwyl sy vinnig iets afhandel met ‘n pasient buite. Uiteindelik daag sy op. Vra hom uit oor sy kinderdae. Sy verhouding met sy ma, pa, broer en suster. Hulle praat oor sy vrou. Dat hy haar verlaat nadat haar ma dood is aan kanker, en sy self met kanker gediagoniseer is. Hulle praat oor die verskeie vroue in sy lewe. Mbali wat dood is aan Vigs. Zinhle wat nie eintlik gehou het van seks nie. Spilile wat sy kind het. Zaza. Nie veel is gesë oor Zaza nie. Daar is ook melding gemaak van Lindelwa.

Na die sessie loop hy terug woonstel toe waar hy sy sak kry en by die kar inklim en universiteit toe ry. By die Universiteit haas hy hom na sy kantoor waar hy die notule vir die Senex vergadering kry en haas hom dan die raadsaal. Buite die raadsaal het studente saamgedrom Hy het gaan sit. Na die rektor se gesig gekyk. Daar is ‘n treurigheid te bespeur in haar gesig. Die studente buite protesteer oor die feit dat hulle nie wil eksamen skryf vir ‘n universiteitswye module nie, of hulle wil beide skryf en nie skryf nie: Sommige studente se CAM punte moet geld, terwyl ander wat nie CAM punte het nie wil eksamens skryf.