Die Pot-Shot

KARAKTERS:

ROOS :           Bebaard, stewige bierpens. so ‘n rooi bruin pak aan, met onder-baadjie

Hy is ‘n digter en ‘n beplanner by ‘n lokale owerheid. Hy is getroud.

GOTLIEB:       Maer, sielkundige in Amerika, tans teruggekeer vir ‘n vakansie in Suid-Afrika. Hy dra bril en is ook ‘n digter.

CLARENCE:   Kunsredakteur by Sondagkoerant. Hy het ook ‘n pak aan. Is homoseksueel.

VAN ASWEGEN: Digter en student.

KELNERIN:    Omtrent 35, Italiaans en geset.

 

(Ander mense in Restourant: Twee besigheidsmanne)

 

Plek:                 The Pot, ‘n restourant wat spesialiseer in Italiaanse disse.


ROOS AAN CLARENCE: As dit nou nie ‘n toevallige sameloop van omstandighede was nie. Juis daardie vorige aand was ek een jaar getroud gewees. (Tussen die gespek deur rook Roos ‘n sigaret in ‘n sigarethouer. Clarence rook ook, maar hy het nie ‘n sigarethouer nie. Roos se swart sigarethouer rol telkens van die tafel af. Elkeen sip ook elke dan en wan aan ‘n Irish Coffee). Jy sien wat toe gebeur hetwas, dit was toe sewe weke dat ek op die waterkar was, vir sewe weke het ek weer vir die eerste keer kleur gesien, toe het ek daai vorige aand vir Retha gesê: Kyk ons moet iets doen daai aand, maak nie saak wat nie. Ons sou eerst gaan uit eet het en as ons sou gaan uit eet het, sou ek ‘n bottel sjampanje bestel het en daarby gebly het. Daardie middag het ek omtrent half vier by die huis aangekom, daai dag het ek so uitgesien om net ‘n paar biere te drink, jy weet, en ek het toe ‘n paar biere gekoop en ‘n bottel sjampanje en ek dog toe ek nou vir Retha sê, goed, want sy gaan toe gym toe, kies nou, of ons elkeen drink nou ‘n bier of ons maak die sjampanje oop en wat gebeur is, sy kom toe eers omtrent half-ses by die huis aan, intussen dog ek ek is nou so lus vir ‘n bier, ek wil gou aan ‘n bier sip voor sy kom en as sy kom dan het ek ‘n halwe bier dan sê ek vir haar hier’s jou bier en ek het my helfte al gedrink. Sy kom toe eers half-ses by die huis aan. Ek was twee ure alleen. Ek het toe ses biere gedrink, en toe kom sy, toe gaan die aand lekker aan, jy weet, dit is daai aand dat ek al hierdie kunswerke gedoen het, (hy buk vooroor om uit sy tas ‘n lêer met ‘n klomp sketse uit te haal, wat hy aangee na Clarence) en toe eet ons sjineesgemaakte kos, wat ek self gemaak het en ons drink die sjampanje. (Clarence kyk met verdeelde aandag na die sketse, terwyl hy verveeld luister na Roos se storie). Retha drink toe net een glasie sjampanje en ek drink toe natuurlik die hele bottel uit. Sy’s toe in die bed al, ek’s toe besig om kunswerke te maak, en ek’s toe net reg daarvoor,  jy weet, God, en ek gaan net aan, jy weet, Here dis twaalfuur, een uur, twee uur en ek gaan net aan, maar intussen is daar ook ‘n bottel Whisky daar bo in die kas wat ek toe ook so naderhand betrek, jy weet, anyway ek het toe heeltemal aangegaan vir so ‘n ruk en ek het die aand geniet. Die volgende oggend toe sê Retha vir my: “Dankie vir ‘n baie kak aand,” jy weet, toe …toe strip ek heeltemal, want ek het dit nou mos geniet en ek het dit beskou as ‘n aand opsigself, jy weet, dit is uit en gedaan, toe gebeur iets met my…ek breek, jy weet, half en half en ek sê vir haar as sy dink dit was ‘n kak aand dan sal ek haar wys wat is regtig kak, ek begin goed rondgooi en skop ‘n lawaai op, toe ek bad toe splash ek die hele badkamer vol water, anyway, toe’s ek werk toe … toe ek by werk kom toe voel ek nou baie jammer vir haar toe bel ek huis toe want ek weet sy is nog daar, want sy gaan altyd ‘n uur na my werk toe, toe is sy daar, toe sê sy vir my sy het valiums gedrink, tien van die goed of soiets, Here toe raak ek bekommerd jy sien, ek bel haar en sê haar wat om te doen, sy moet haar vinger in haar keel steek en sulke goed, so daar was ‘n hele dramatjie gewees, toe jaag ek huis toe, want toe ek weer bel toe antwoord sy nie die foon nie, toe dog ek nou sy’s in’n koma ingegaan of iets jy sien, toe dog ek, O God, nou moet ek huis toe, toe sê ek vir die ou’s by die werk: “Kyk Retha is siek, ek moet huis toe gaan.” Ek gaan toe huis toe, sy’s toe orraait, jy weet, sy lê toe daar in die bed en toe gee ek al hierdie goed (wys na die tekeninge) titels. Terwyl ek oor haar waak om te sien of sy orraait is.

CLARENCE: Ja (sug en organiseer die tekeninge so dat diê waarvan hy hou bo lê).

ROOS: So wat dink jy van my kunspogings Clarence?

CLARENCE: Ek hou van hierdie eerste klompie.

ROOS: Hoe laat is dit?

CLARENCE: (kyk op horlosie) Vyf en dertig minute oor een.

ROOS: Ek voel nou skielik weer baie lus vir ‘n bier, en jy?

CLARENCE: Ja wat.

ROOS: Kelnerin. (Hy wys met sy vingers dat sy moet nader staan.)

KELNERIN: (Kom nader) Nog iets vir julle menere?

ROOS: Ja, twee biere, een Castle Lager vir my, en wat van jou?

CLARENCE: Ook ‘n Castle asseblief.

KELNERIN: (Skryf op) Goed menere.

ROOS: Ek het ‘n gevoel iets gaan gebeur, maar ek weet nie wat nie.

(Op daardie oomblik kom Hendrik van Aswegen by die restourant in, hy dra ‘n rooi platetas by hom wat hy by sy voete neersit, toe hy gaan sit.)

HENDRIK: Hallo…Hallo…Ek het jóú nie hier verwag nie (sê hy verwysend na Clarence.)

ROOS: Soos jy sien het ek vir jou ook ‘n verrassinkie.

HENDRIK: Is ek laat? (En hy kyk op sy horlosie.)

ROOS: Ja, jy is presies vyf minute laat.

HENDRIK: So hoe gaan dit? (Vra hy aan Clarence),

CLARENCE: Ek is baie depressed.

ROOS: Wat het jy in daai rooi tas? Is dit die verrassing?

HENDRIK: Nee, dis plate wat ek gekoop het. Die verrassing is iemand wat hier gaan aankom.

ROOS: Is dit Andries Fik?

HENDRIK: Nee.

ROOS: Is dit Professor Koos du Preez?

HENDRIK: Nee, ek wil nie eindlik vir jou sê wie dit is nie.

(Kelnerin kom staan by tafel en gee die twee biere aan.)

KELNERIN: Iets vir jou, meneer?

HENDRIK: (Kyk op die menu.) Het julle milkshakes?.. Ja, julle het…’n Lime milkshake, asseblief.

KELNERIN: Goed.

HENDRIK AAN  ROOS: So drink jy al weer?

ROOS: Ja, soos jy kan sien.

HENDRIK: Plaas dat jy jou drama klaar skryf.

ROOS: (Sug) Ja, e.

CLARENCE  AAN HENDRIK: Ek wou gister by jou kom kuier het, maar toe moes ek ‘n storie in Pretoria gaan doen.

HENDRIK: Jy moes gekom het; ek het juis daaraan gedink. Waarom kom jy nie more nie en bring dan sommer my Multatuli boek saam?

CLARENCE: Kan nie, more moet die kunsblad in fabriek toe.

HENDR I K: So waarom is jy so depressed?

CLARENCE: Sommer oor Willem en Martin en al die mêkkies.

HENDRIK AAN ROOS: Ek het gister ‘n oulike idee in my sielkunde boek opgetel vir die handelinge van jou drama.

ROOS: O ja, wat is dit?

HENDRIK: Wel, jy neem jou karakter…dan neem jy jou woordeboek en soek al die werkwoorde wat betrekking het op jou karakter in die situasie waarin hy is en dan daarna soek jy die byvoeglike naamwoorde en die bywoorde, die res is verbeelding.

ROOS: Dis blêddie oulik.

HENDRIK: Blykbaar is dit hoe kindertaal otwikkel … (Hendrik sien die lêer met tekeninge en kyk daarna). Het jy nuwes bygewerk?

ROOS: Ja,die boonstes het jy al gesien.

HENDRIK: Ek sien so ja. (Een werk vang Hendrik se oog). Wat is dit hierdie?

ROOS: Dit is een van die scrap planne vir ‘n nuwe uitbreiding wat ons beplan wat ek sommer ingekleur het … maar vertel my nou, watse verrassing is dit wat jy vir my het?

HENDRIK: (Kyk oor sy skouers na restourantdeur) Lyk nie of die ou gaan opdaag nie. Hy kan seker nie die plek kry nie, of daar is nie parkering nie.

ROOS: Wie is dit?

HENDRIK: Wil jy regtig weet?

ROOS: Natuurlik!

HENDRIK: Wel, dit lyk nie of hy meer gaan opdaag nie, so ek kan seker maar sê: Dis Gotlieb Verster.

ROOS: Jy sweer jy lieg nie vir my nie. Gotlieb Verster!

HENDRIK: Ja.

ROOS: So ou Gotlieb is weer in die land. (Hy buk af om ‘n kamera uit sy tas te haal).

HENDRIK: Ja, hy’t my nou die aand gebel.Hy wou my graag ontmoet, toe noem ek aan hom dat ek jou vandag hier moet ontmoet. Toe sê hy dis ‘n goeie kans om jou dan sommer ook weer te sien en vra of hy ook kan kom, maar dat ek dit as ‘n verrassing vir jou moet hou.

ROOS: Clarence, hier is die kamera, vanmiddag moet jy fotos neem, want ek gaan Gotlieb so opfok, psigologies opfok!

(Hendrik lag.)

CLARENCE: Is Gotlieb ‘n moffie?

HENDRIK: Ek weet nie. Ek het die ou nog nooit ontmoet nie.

ROOS: Kyk, ek het niks teen moffies nie, maar as daar iemand is waarteen ek iets het dan is dit nou Gysbert, nee man, jy weet dis net … regtig waar … ek het vir Gysbert in my lewe nog nooit enige kwaad aangedoen nie.

HENDRIK: Waarom haat jy hom dan so?

ROOS: Kyk, hy het kak opgetree teenoor my, nou regtig. Ding is, kyk, ek weet nie of ek vir jou die hele storie van wat daar gebeur het in die Kaap vertel het nie.

HENDRIK: Nee.

ROOS: (Terwyl Roos vertel probeer Clarence met Hendrik voetjie-voetjie speel). Die hele ding is, kyk, ek het vir Gysbert gaan kuier, meer as een keer oor die jare versprei, maar dit was altyd net so in en uit, en ‘n lang tyd vooraf het ek met hom gereël, het ek vir hom gesê een jaar kom ek vir jou kuier …(Hendrik skud sy kop instemmend). Behoorlik kuier.

HENDRIK: Ja.

ROOS: Ek gaan vakansie neem …ek … ek gaan rustig kom sit en ek kom ‘n boek skryf of iets … Ek gaan in daardie kamertjie wat so uitkyk op die see, sit en ‘n boek skryf …

(Hendrik grinnik.)

ROOS: Hy het gesê: “Nee, dis gaaf” en daardie spesifieke jaar het ek vroeg in die jaar, seker nege maande voor die tyd, al vir hom gebel en vir hom gesê, ek kom.

HENDRIK: Ja.

ROOS: Toe kom ek daar aan, want hy’t vir my te kenne gegee, die hele jaar lank, dat ek is welkom, en in Pretoria het ek mettertyd gesien dinge met my en my huwelik loop nie so reg nie, toe weet ek, ek gaan dalk ‘n krakie maak vir ewig …

(Hendrik grinnik. Roos haal sy sigarette uit. Bied een vir Clarence en Hendrik aan, maar Hendrik rook nie.)

HENDRIK: En toe?

ROOS: Maar ek weet toe ook ek het ‘n afspringplek daar, dat ek vir ‘n maand of twee daar kon bly, en ek het baie geld gehad, ek bedoel, ek was bereid om hom te betaal, en ek het hom dit ook gesê, dat ek sal betaal vir ‘n kamer tot ek my voete kry, en jy weet dan kan ek my eie plekkie êrens opsoek en so aan.

HENDRIK: Ja.

ROOS: Anyway, toe ek daar aankom, toe’s daar ‘n couple daar wat een of ander akteurs is, Amerikaners of iets, die vrou en die man en die kind en … Gysbert het, toe ek daar aangeland het, vir my gesê, hy’t vir my ‘n kamer in een of ander hotel gereêl, nou goed orraait, of ek nou vir hom of vir die hotel betaal, maak nie eintlik aan my ‘n verskil nie, maar nou elk geval, jy weet, die ding is, ek’s toe heeltemal vreemd daar en so aan, en die uiteinde van die saak is, maar net, huk… Gotlieb kom toe daar aan , en hy woon toe in die kamer waar ek in wou gewoon het, dis nie dat daar nie plek was in die huis nie.

HENDRIK: Ja.

(Clarence tel die kamera op, maak of hy ‘n foto van Roos neem.)

ROOS: Behalwe dat die Amerikaners daar was, was daar nog plek dat ek ppk nog daar kon gewees het, maar toe kom Gotlieb daar aan, hy en sy tikmasjien, en gaan daarin woon, en hy het nie so lank vooraf soos ek gereël om daarin te gaan bly nie.

HENDRIK: Ja.

ROOS: Toe’s ek nou heeltemal uitgestoot daar, so erg dat ek alleen was Kersfees, dat ek allen in ‘n restourant was…goed, ek erken, ek het ‘n hele paar keer dronk geword, jy weet, ek het ‘n hele paar keer gaan kuier, en een of twee aande het ek vreeslik baie geniet, en … maar ek bedoel, ek was heeltemal aangenaam verlore op daai stadium.

HENDRIK: Ja, dis kwaai.

ROOS: As hy as mens ooit in sy lewe vir my vra vir ‘n ding, sal ek wragtig waar my bes doen om hom te befok.

HENDRIK: Ek wonder waar is Gotlieb. Hou laat is dit omtrent nou?

CLARENCE: Een uur.

HENDRIK: So die digbundel wat Gotlieb vier jaar gelede geskryf het, en die Dagbreek-prys mee gewen het, is dit die een wat hy in daardie kamer, waarin jy wou gebly het, geskryf het.

ROOS: Ja, met vele gebribery.

HENDRIK: Wat is die naam daarvan, nou weer?

ROOS: (Kyk Hendrik aan) Hoekom?

HENDRIK: As ek die ou ontmoet, moet ek seker maak asof ek sy boeke ken (Lag.)

ROOS: Kan julle my verskoon, ek moet net gou  parkeermetergeld gaan ingooi.

HENDRIK: Nee, dis goed so. (Roos staan op.) Jissus, ek wonder waar is Gotlieb nou. Miskien moet ek eerder daar gaan sit, sodat ek kan sien wanneer hy inkom. (Hendrik staan op, en gaan sit aan die ander kant van die tafel.) So watse probleme het jy en jou mêkkies nou weer?

CLARENCE: Nee, ek wens net ek het R40000 gehad.

HENDRIK: Waarvoor, is dit sodat jy ‘n welsynshuis kan begin?

CLARENCE: Ja, daar kom vanoggend ‘n laitie in. Tand het hom daar aangebring, hy’s twaalf jaar oud en die ma wil hom uitskop, vir die welsyn weggee, want sy’t nou ‘n dronk lover gekry, jy sien, nou is hy in die pad, nou moet hy of by Nick gaan bly of êrens, solank hy net êrens anders bly, is sy tevrede, nou wil ou Tande hê hy moet daar by my kom bly, maar nou bly daar klaar iemand by my, en ek kan net nie so ‘n klein outjie aanhou nie, nou gaan hulle ‘n flat soek, die outjie ry nou elke elke dag met ‘n vry pas in skool toe, dis maar een, dan’s daar ‘n ander een, Chris, sy pa bly in Durban, hy’s elf, hy bly by sy peetpa, wat ‘n daggamerchant is, jy weet, nou ja. for fuck’s sake.

HENDRIK: Dis nogal kwaai, hê? … So hoekom vat jy hulle nie welsyn toe nie?

CLARENCE: Hulle haat die welsyn. Ek meen waarheen fokken gaan hulle. Hy wil juis nie welsyn toe gaan nie.

HENDRIK: Dis nogal kak … maar ek dink die idee is kak, maar as die outjie eersw daar is, is dit nie so kak nie.

CLARENCE: (Sug.) Jaaa…

HENDRIK: Hulle ontwikkel, jy sien, hulle ontwikkel ‘n soort community feeling daar, maar dis soort van in isolasie, dis ‘n community wat baie geīsoleerd is , die hele tyd, jy weet, die heeltyd, is jy besig om jouself te definieer teen die gemeenskap daarbuite.

CLARENCE: Wel, in hulle gemeenskap is die welsyn uit, jy sien.

HENDRIK: Ja.

CLARENCE: Willem, ook hy wil niks met die welsyn te doen hê nie, maar hy’s nou far away, hy werk, en so aan. Ek weet nie, Martin, wat daar by my bly, hy gaan sien die welsynvrou, jy weet, maar, hy gebruik haar sodat hy skoolpapiere kry, werk kan kry, en so aan, maar hy wil nie na ‘n weeshuis of ‘n koshuis gaan nie, hy was in een. Ek het hom nou al so kak behandel, hy verkies dit nog steeds om by my te bly, eerder as om … (Lag.)

HENDRIK: Wel, ek het ‘n oom. Hy het omtrent agt nkinders. Hulle bly in so ‘n kamertjie, omtrent so groot soos hierdie vertrek, met so ‘n groot matras, dan slaap almal op die een bed. Hy en sy vrou en al die kinders.

CLARENCE: Wel, ek maaind nie as hulle daar kom bly nie, maar die mense begin naderhand moan, jy weet, die woonsteleienaars skop jou naderhand uit en ek kan nie vir so baie mense sorg nie, ek sukkel  juis om vir myself alleen te sorg, wat nog van hulle … nie net finansieel eintlik nie … maar …

(Gotlieb kom binne. Hendrik erken hom, wys met sy hand in Gotlieb se rigting, sodat hy kan sien waar hulle sit. Hendrik skud sy hand.)

HENDRIK: Hendrik van Aswegen, en dit is Clarence Venter, en hierdie is Gotlieb Smit.

GOTLIEB: Aangenaam.

HENDRIK: Roos het net gou gaan kleingeld in sy parkeermeter gooi.

GOTLIEB: Die weer hier in Suid-Afrika is lieflik teen die mislike koue van New York.

HENDRIK: Ek sal nou nie weet nie. (Roos kom binne met ‘n boek in sy hand. Hy gaan sit teenoor Gotlieb.)

ROOS: (Grinnik.) Gotlieb … So hoe gaan dit met jou?

GOTLIEB: Nee, goed, maar wat bis hier te eet, waar’s die menu?

(Roos roep na die kelnerin.)

ROOS: Die menu, asseblief, en nog ‘n Castle Lager vir my … wat van julle?

CLARENCE: Vir my ook.

HENDRIK: Nog ‘n melkskommel vir my.

GOTLIEB: So wat is lekker?

HENDRIK: Hier is lekker Italiaanse disse.

GOTLIEB: (Terwyl hy kyk na die menu.) Sjoe maar die kos hier is goedkoop. In New York kos ‘n hamburger en ‘n koppie koffie vyf dollars.

ROOS: Maar as jy ‘n psigiater in New York is, kry jy seker omtrent ‘n hoderd duisend dollars in ‘n jaar.

GOTLIEB: Nie noodwendig nie.

ROOS: As jy vat dat byna elke Amerikaner gaan sien ‘n psigiater en dat jy ‘n superintendent van ‘n inrigting is, kry jy seker nog meer as ‘n honderd duisend.

GOTLIEB: Is hulle steak lekker?

HENDRIK: Man, hulle spaghetti bollognaise wat ek al geëet het was heel skaflik. Van die ander kos het ek nog nie geëet nie.

GOTLIEB: Ek is lus vir ‘n lekker steak. (Die kelnerin daag op met die biere.) Kan u vir my ‘n t-bone steak bring asseblief.

KELNERIN: (Skryf af.) Goed meneer.

ROOS: So Gotlieb waar is jou safaripak?

GOTLIEB: (Ignoreer Roos se vraag, en vra op sy beurt aan Hendrik) So hoe is die ontvangs van jou nuwe digbundel?

HENDRIK: Nee jissus, dit is nie ‘n vraag wat jy  aan my moet vra nie. Daar verskyn nie meer resensies in die koerante nie.

GOTLIEB: Ja, dis jammer.

HENDRIK: Ek dink partymaal dis ‘n goeie ding.

ROOS: So by the way, Gotlieb, ek hoor so via Rina, dat jy vir Gysbert gesê het dat jy glad nie van my nuwe digbundel hou nie.

GOTLIEB: Dis nie waar nie, om die waarheid te sê het ek dit nog nie gelees nie. Hoe kon ek siende dat ek in New York bly? (Kelnerin kom met bord kos aan, plaas dit voor Gotlieb neer.) Vandat ek in Suid-Afrika is, het ek ‘n punt daarvan gemaak om elke koerant wat ek in die hande kon kry, te lees, en wat my opval is hoeveel meer militaristies dit geword het.

HENDRIK: Ja, maar dit is Reagan se skuld. Ek kan nie verstaan waarom iemand hom nie al lankal geskiet het nie.

GOTLIEB: Volgende week moet ek ‘n seminaar by die Universiteit van Kaapstad gaan aanbied oor die krisis in Iran, waar ek die vraag prominent wil vra, is dit werklik ‘n krisis of die oplossing van ‘n krisis.

HENDRIK: Ja…Lees jy ooit Rapport se kunsblad?

GOTLIEB: Om die waarheid te sê, vandat daar nie meer ‘n boekeblad in is nie, nee.

HENDRIK: Dit is jammer, want hulle het partymaal nogal ‘n goeie kunsblad, gewoonlik nie oor letterkunde nie, maar meer universele probleme in die kuns.

ROOS: Gotlieb, het jy toe na Andy Warhol se krismisparty toe gegaan soos jy gesê het in jou brief?

GOTLIEB: Nee, ek het nie gegaan nie.

ROOS: Maar as jy nie gegaan het nie, dan neem ek jou kwalik, want jy was nie in 1974, ’75, ’76 en ook nie in ’81 by Andy Warhol se krimisparty nie, soos jy gesê het nie.

GOTLIEB: Nee, wat sou ek daar gaan maak. Dis net freaks wat na sy party toe gaan en ek kry elke dag te doen met genoeg freaks.

ROOS: Juis, is dit nie hoekom jy in die eerste plek wou gaan nie…omdat die vrouens hulle poeshare skeer en hulle tepels lipstiffie nie?

GOTLIEB: Nou hoekom sou ek nou juis daarom wou gaan?

ROOS: Vandag, voor hierdie twee menere, wil ek jou herinner aan ‘n paar dinge, want jy het my in die gesig gevat, en ek laat my nie meer ronddonner nie, as mense my nou ronddonner, dan bou ek ‘n pad oor hulle huis, soos ek gedoen het met Andries Fik.

CLARENCE: Dis immoreel.

HENDRIK: Wat…wat gaan jy doen?

ROOS: Wel, die roetebepaling was eers langs hulle huis verby, hulle huis sou so ‘n eiland tussen twee hoofweë wees, maar toe verander ek dit, om koste te spaar, in een pad wat reg oor sy huis gaan. Dit was óf hy óf sy buurman.

HENDRIK: Jissus.

ROOS: Maar, om terug te kom by jou Gotlieb, onthou jy ons was maats, maats van die onbekende, voor jy hier weg was, dit op ‘n stadium dat jy by niemand meer welkom was nie, en dis die reine waarheid, Pieter het jou die huis verbied, Cilla Kruger het jou die huis verbied, Marie het gesê sy wil jou nooit weer sien nie, die stadium toe jy Suid-Afrika verlaat het was daar nou wragtig niemand in Pretoria, of vir daardie matter in Suid-Afrika wat jou meer kon vat nie.

GOTLIEB: (Skud sy skouers.) Kan ons nie oor iets anders praat nie.

ROOS: Nee, waarom ek jou nooit sal vergewe nie, onthou jy dat ons mekaar belowe het om vir mekaar te skryf, en onthou jy daardie laaste brief wat jy geskryf het, die een waar jy my sommer so uit die bloute uitgepak het, en vir my gesê het as ek nie ‘n donnerse brief kan skryf nie dan hoef ek nie weer vir jou te skryf nie?

GOTLIEB: Ja, maar ek wil nie nou daaroor praat nie.

ROOS: Maar ons gaan daaroor praat, al wil jy nie.

GOTLIEB: Ek sien nie die punt daarvan in om met jou te redeneer in die toestand waarin jy nou is nie.

ROOS: In die dae toe jy nog in Pretoria gebly het. het jy vir my altyd gesê hoekom kan ek nie een meisie hou nie, jy het altyd gesê as jy nie so fokken lelik was nie, jy ook jou gat af sou genaai het, as jy kon, soos jy vir my gesê het, maar nou moet ek hoor, so met die grapevine langs, dat jyself nie ‘n meisie kan hou nie, trouens dat jy besig is om te skei, is dit waar? (Gotlieb haal net sy skouers op.) Jy het sekere voorspellings gemaak in 1973. Jy het ondemeer met my eerste digbundel, toe ek en jy nog groot maats was, maats van die onbekende, vir my gesê dat die titel wat ek vir die bundel in daardie stadium gehad het, nl. Laaste Poespas, wat sou deurgegaan het, gesê dit moet verander, en toe skryf ek ‘n gedig  toe die bundel reeds aanvaar was, met die titel “Laaste Marspas”, toe het jy gesê die gedig moet heel voor in die bundel wees en die titel moet die titel van die bundel wees, wat toe gebeur het, jy’t toe ook gesê uit hierdie digbundel gaan Opperman een gedig kies vir Groot Verseboek wat toe ook gebeur, en jy het ook gesê dat ek jou nog in my lewe gaan haat,  die feit is dat ek jou nog kan aanvaar as mens, maar dat ek dink jy is ‘n kak digter, maar jy het hierdie vermoë om jou soos ‘n ding in te wurm, jy weet, dit is natuurlik aan almal bekend dat een van die beoordeelaars van die Dagbreek-prys, ek kan nou wragtig nie onthou of dit Prof. Botha was nie, of wie dit was nie, wat jou bundel wat die prys gewen het, aanvanklik heeltemal afgekeur het, die ou het trouens gesê daar is nie een publiseerbare gedig in die ding gewees nie, maar uiteindelik, toe die bundel, fok weet hoe, tog gepubliseer is, en ‘n ou kan dink wat daar gebeur het, jy moes die uitgewer om jou vinger gedraai het, toe is die Prof. Botha sameroeper van die drie beoordeelaars, en het hy aanbeveel dat die boek, die ding moet wen, nou jy weet, God, ‘n ou kan net dink, en die ander beoordeelaar, die Jack wat ons almal van weet, wat toe later ‘n Wimpy in Durban moes gaan oopmaak het, want hy’s toe uitgeskop, julleweet.

GOTLIEB: Ek kan maar net sê so what.

ROOS: Die feit bly staan, dat soos alles wat jy doen, jy jou orals inwurm, orals waar jy kom, ek meen met al die mense met wie jy kontak het, vertel jy hoe wonderlik jy is, wat ‘n fantastiese IK jy het, en dat jy hierdie moviese dinge regkry, terwyl jy basies maar ‘n moerse kak digter is en jy weet dit. Jy gebruik mense die hele tyd, en sodra jy agterkom mense luister nie meer wat jy sê hulle moet doen nie, en sodra jy nie meer by hulle kan wen nie, dinge uit hulle uit kan kry nie, dan wil jy niks meer met hulle uit te waai hê nie, soos wat gebeur het met ons korrespondensie. Toe jy gesien het, jy kry niks meer uit my nie,  toe drop jy my.

HENDRIK: Maar Roos, dit is tog nie so belangrik wat jy vir Gotlieb beteken nie, dit is wat jy vir jouself beteken, en pryse self is ook nie belangrik nie.

GOTLIEB: Presies.

HENDRIK: Kyk, julle is van die Sestiger-Sewentiger geslag, of die blank generation, net na die aanvanklike deurbrake, en soos ek kan aflei, het julle baie wat in julle guns tel soos julle het Dada ontdek, maar julle het Dada nie ver genoeg gevat nie, want die uitgewers het julle geïnhibeer. Vandag  bestaan daardie probleme nie, as ‘n ou werklik glo in wat hy doen, dan publiseer hy sommer sy eie boek, ons almal weet dit is moontlik, en dit is al gedoen, maar nou is dit asof julle nie by die nuwe situasie  kan aanpas of verstaan nie, asof julle nie kan loskom van die instellings nie, soos die uitgewers, die resensies, die akademie en die pryse nie, asof julle nie meer ondergronds kan gaan nie.

CLARENCE: Presies, Roos jy voel net gedurig verontreg omdat jy nie in jouself kan glo nie, voordat dit gebeur, moet jy eers jou suksesse kan meet, moet jy eers seker wees van wat ander mense van jou dink.

GOTLIEB: Ja, in die negentiende eeu moes ‘n digter soos Wordsworth, wat vandag nog beroemd is, self sy boeke publiseer, terwyl die offisiële digter, wat in hulle eie tyd geweldig populêr was soos Peacock, byna heeltemal vergete is.

HENDRIK: Ja.

ROOS: Maar jy wat Gotlieb is, het jou pad in die letterkunde ingenaai, soos vir Karen wat nou by NG-uitgewers werk en wat daai tyd nog uitgewer van Pêrel-uitgewers was. Ons ken almal die storie van hoe jy haar by kerslig onder die restouranttafel gevinger het, en hoe daardie manuskrip gepubliseer is, sonder dat enige keurder dit gelees het. (Gotlieb grinnik.)

CLARENCE: But that’s beside the point.

ROOS: Ek moet nou pis. Waar’s die toilet, en kan julle nie solank nog biere vir ons bestel nie.

HENDRIK: Man, ek dink jy moet die vrou vra vir die sleutels, dan loop jy hier om die draai.

ROOS: (Staan op en praat met die kelnerin.) Nog drie biere asseblief en waarvan hou Hendrik (Sagter). Ek soek die sleutel vir die toilet.

HENDRIK:  Niks meer vir my nie, dankie.

(Roos beweeg by die restourant uit.)

GOTLIEB: Dit is moeilik om enige iets sinvols te sê as Roos dronk is.

HENDRIK: Ja.

CLARENCE: Dit wil voorkom asof hy jou verlede voor ons probeer oopvlek en dit is so pointless.

GOTLIEB: Vertel my wat doen jy vir ‘n lewe?

CLARENCE: Ek is die Kunsredakteur van Sondagnuus.

GOTLIEB: O, ek sien. Hendrik, in jou brief aan my het jy geskryf hoe ligsinnig Amerikaanse punk in vergelykingmet Britse punk is.

HENDRIK: Ja.

GOTLIEB: Wat jy in gedagte moet hou is dat dit is hoe die Amerikaners is. Hulle raak ligsinnig oor die grootste krisisse en dit is hoekom ek van hulle hou.

HENDRIK: Ek was buitendien ‘n bietjie depressief toe ek dit geskryf het. Daar is Amerikaanse groepe wat tog nie so ligsinnig is nie. Dit is net dat ek die Amerikaners blameer vir die kaksituasie waarin die mensdom is.

GOTLIEB: Dit kan ek verstaan en ek is seker die meeste Amerikaners dink ook so, maar daar is net niks wat hulle daaraan kan doen nie.

HENDRIK: Hulle kan van Reagan ontslae raak vir ‘n begin.

GOTLIEB: As hulle kon, is ek seker hulle sou dit al lankal gedoen het. (Roos kom terug, sit.)

ROOS: Ja, en wat het geword van die Mirakel?

HENDRIK: Die Mirakel?

ROOS: Ja, ou Gotlieb se koshuisnaam gewees. (Hendrik en Clarence lag.) Wel, die Mirakel het verdwyn, hy het heeltemal in die niet verdwyn; is dit nie so nie, Gotlieb? Die Mirakel het ons almal van die wal af in die sloot in gehelp. Wie onthou nog jou sogenaamde selfmoordpoging?

HENDRIK: Gotlieb se selfmoordpoging?

ROOS: Ja.

HENDRIK: Wel, ek het nog nie daarvan gehoor nie. Vertel ons daarvan.

ROOS: Gotlieb het vir ‘n rukkie in Windhoek gespesialiseer, toe een dag, jy sien, ry hy uit in die veld in. Hy het toe al ‘n paar pille gedrink, maar nie, let wel, genoeg om homself mee dood te maak nie, jy sien, toe ry hy ‘n ent uit Windhoek uit in die woestyn in, en hy pak ‘n klomp takke oor die kar, my God, die enigste boomtakke in ‘n hele kaal kol was bo-op sy kar, en dit was net voor hy ‘n operasie moes doen, so hy het geweet hulle gaan hom mis, toe stuur hulle helikopters uit van die weermag, en daar kry hulle hom, jy weet, en jaag hom terug hospitaal toe. Ek dink op die ou end moes hy nog die operasie doen na die matrone sy maag uitgepomp het.

(Roos stamp per ongeluk sy glas bier om. Hulle kry servette om dit mee op te droog. ‘n Bediende kom droog die tafel ordentlik af. Clarence het nou blykbaar tou opgegooi om voetjie-voetjie met Hendrik onder die tafel te speel. Roos merk ‘n oorskuif van Clarence na Gotlieb se rigting.)

GOTLIEB AAN CLARENCE: (Merkbaar opgewonde.) By watter koerant werk jy, nou weer?

CLARENCE: Sondagnuus. (Op hierdie stadium stamp Roos sy bier weer om in sy poging om onder die tafel in te loer.)

KELNERIN: (Baie boos.) Godverdomme! Niks meer bier nie. Uit! Uit!

(In die skermutseling wat plaasvind, beland Roos onder die tafel, Gotlieb op die tafel met ‘n glas Irish Coffee in die hand, gillende.)

GOTLIEB: New York! New York!

(Clarence staan op ‘n veilige afstand met sy bier, en Hendrik klou aan sy rooi tas en melkskommel. As almal momenteel bedaar, word ‘n skoot gehoor van onder die tafel. Gotlieb laat sy Irish Coffee val en gryp met albei sy hande tussen sy bene. Bloed loop soos tamatiesous deur sy vingers.)

ROOS: (kruipende vanuit onder die tafel met rewolwer en bundel.) En ek sou net my bundel vir jou teken “Vir jou as mens”.