Trollop haal sy bril en horlosie af voordat hy in die bad klim. Sy lyf is vol merkies van die waterpokkies wat hy al die afgelope drie dae het. Onder die wasbak is potplante.
“Trollop jy is ‘n useless donner, vir die afgelope jaar het jy nog nie eenkeer seks gehad nie, net illusies oor vlieënde pierings en water wat begin blink en paranoia oor elke motor wat op die erf stilhou.”
Dít is die tipe gedagtes waarmee Trollop homself beskuldig toe hy in die warm water klim. Daar moet bygesê word dat Trollop in die jaar wat verby is ook ‘n teoretiese fascis geword het en dat sy ex-girlfriend haar eksamens gedruip het.
“’n Kernkragsentrale in die oerwoude van midde-Afrika, ‘n tennisbaan, ‘n badkamer met potplante, krokodille op die oewer van die ewige rivier, ‘n vrou in skamele kleredrag soos die meisie op die almanak teen my kas… ‘n vlieënde piering wat op ‘n dag verskyn…” gedagtes aan ‘n nuwe eksotiese verhaal. Trollop vryf die seep oor die waterpokkiesweertjies op sy arm. Die tuinwerker begin die gras te sny onder die badkamervenster. Die lawaai versteur die gedagtes van Trollop.
“Jou moer se ma,” vloek Trollop, maar die grassnyer lawaai so dat die tuinwerker niks hoor nie. Trollop se ma het ‘n obsessie oor gras wat gesny moet word. Dit gee Trollop hooikoors. Niemand verstaan hoe Trollop ly wanneer die gras gesny word nie. Die hooikoors maak sy paranoia intenser en inspireer nuwe wendinge in sy verhaal: “Die grasperk om die konsortiumbestuurder se huis in die oerwoude van Afrika word gesny. Wolke maak gereed om te reën. Die bestuurder is besig om te bad en dink aan die vrou met die skamele klere … toe verskyn daar soos ‘n slang in die deur ‘n knaldemper …”
Trollop bad gereeld elke dag om drie-uur, seker omdat hy daarvan hou wanneer net sy kop bo die water uitsteek en hy hou daarvan om sy lyf met ‘n koekie seep te smeer. Om te bad is soos kougom vir sy verbeelding.
“’Die probleem van ons beskawing is geld wat rente loop,’ sê een van die karakters oor die telefoon. ‘Wat ons vandag nodig het, is ‘n droom, iemand wat ons kan vertel van ‘n duisendjarige ryk, ‘n plek waar hi-fi’s gemaak word om vir ‘n duisend jaar te hou, ‘n estetiese samelewing, gemaak om die mens se skoonheidsin te bevredig, ‘n samelewing van mitologiese dissipline. In ‘n gemeenskap waar dinge gemaak word om vir ewig te hou, is daar nie plek vir klein ego’s nie, dit is ‘n plek vir volmaakte dinge, dinge wat groter is as die mens, dit is ‘n plek wat bevredig omdat dit soos die paradys voel, ‘n plek waar daar nie politiek is nie, waar die regering bestaan uit verteenwoordigers van gildes: mynwerkergildes, argitekgildes, tuinwerkergildes, vullisverwyderaargildes. Elke jaar sal ‘n verteenwoordiger van elke gilde verkies word op meriete van die kwaliteit van sy werk. ‘n Samelewing waar skoonheid die kern van alles is.’n Samelewing van parke en beelde, potplante en orgies.”
Trollop voel hoe sy hart opgewonde begin klop as hy hierdie mooi gedagtes dink. Hy sien spreiligte en bloedrooi vlae, so groot soos tennisbane, met swastikas daarop en die derduisende mense wat kom luister na die luidsprekers so groot soos woonstelgeboue, wat kom luister na die stem wat illusies en drome vir hulle blaf. “’n Integrasie tussen natuur en tegnologie, huise wat gate in die grond is met glasdakke sodat ‘n mens kan sien wanneer dit reën, sodat die aande belig kan wees met geel kolle in die grond, sodat ‘n mens die skoonheid van mense wat skottelgoed was, kan sien, mense wat soos paddas in die ligdamme van hulle huise lewe, ‘n balans tussen die verlede en die nuwe drome, niks moet afgebreek word nie, bome moet deur ou geboue bars, slange en miere moet tussen mense lewe, ‘n soort anargie waarin alles aanbid word.”
Trollop se oë sit stokstyf in sy kop soos sy verbeelding met hom weghardloop. Dan kom daar ‘n wending in sy gedagtes. Iets waarop hy nie voorbereid was nie. Dit is sy pa se stem: “Waarom word jy nie ‘n manager by Pick’n’Pay nie?” Die situasie toe sy pa hierdie gedagte geuiter het, kom terug na hom. Hulle is in ‘n motor op die M2. Regs van hulle toring die tempels van Johannesburg. Dit sou wonderlik wees as die stad toegelaat sou word om te verval. Stel jou voor ‘n Johannesburg sonder mense, deur die tyd verwaarloos, die eggo’s van die geboue, ‘n skaapwagter wat sy skape laat wei in die strate en vlermuise wat met sonsak uit die kantoorvensters vladder.
Buite die badkamervenster het dit begin reën. Die tuinwerker het die grassnyertou begin oprol. Trollop smeer die seep oor sy bors, onder sy arms. Hy spoel dit af, maar die water wil nie eintlik vuiler word nie. Trollop is verlief op water. Vir drie dae kon hy nie bad nie. “jy beter nie bad nie, anders swel jou ballas op,” het sy pa gesê. Die waterpokkies is vir Trollop ‘n heilige siekte, ‘n siekte soos die swere van Job. Dit is asof die heiligheid by jou intrek, en miskien is dit ‘n wese uit ‘n vlieënde piering. Trollop staan op, droog homself met die handdoek af en dink: “Trollop jy is ‘n useless donner, vir ‘n jaar het jy nie seks gehad nie.”
Vir ‘n jaar het Trollop voor vensters gestaan, gekyk hoe gras groei, hoe vyebome blare kry. Vir ‘n jaar het Trollop gordyne oop en toe getrek.