My pa is ‘n mynwerker wat ryk geword het. Ons bly op ‘n plaas en het onlangs hierso ook ‘n tennisbaan gebou. Van die drie kinders is ek die meeste gefok. Ek is eintlik nie meer ‘n kind nie, maar ‘n drie-en-twintigjarige. Vanmôre terwyl ek die B52’s vir ander pelle van my op band neem, kom staan my ma in die sitkamer en sê: “Wanneer bel jy daai mense, jy kan nie vir ewig hier bly nie.”
“Daai mense.” Dit is ‘n gepaste woord vir die wêreld daarbuite waarvoor ek bang is. Daai mense met hulle kortaf amptelike houdings. Ek kon nie help om te voel dat ek maar van die huis moet wegloop nie. Maar waarheen?
Ek het al twee manuskripte geskryf wat ek onlangs aan ‘n bekende Engelse uitgewer gaan wys het. “That’s a lot, quite a lot for your age,” was sy kommentaar. Hy sou my die volgende Dinsdagaand om sesuur bel. Hy het toe nooit nie, die Poes.
Baie aande voor ek aan die slaap raak, dink ek hoe bakgat dit sou wees as ‘n vlieënde piering my sou wegneem. Dit help nie om daaraan te dink nie. Dit gebeur miskien net met een uit ‘n driehonderdmiljoen mense.
Onlangs het ek weer sterk begin glo in liefde.Dit is vreemd omdat my weerstand teen selfmoordgedagtes ook nie meer so sterk is nie. Ek weet presies waarom ek probleme het, maar ek kan niks daaromtrent doen nie.
My pa staan halfses in die môre en donner aan my kamerdeur, my vel is nog vrot van die waterpokkies: “Jy moet nou opstaan sodat ek jou kan wys wat die kaffers vandag moet doen.”
Dit is so ‘n niksbeduidende bevel vir meeste mense, maar elke keer as hy die woord “moet” gebruik, krimp ek meer weg. Ek het nie ‘n keuse. Ek het nie ‘n wil nie. Ek is net ‘n skilpad wat ‘n klomp mense in die verlede in die pad opgetel het.
Omdat ek nie ‘n wil van my eie het nie, stel ek in niks werklik belang nie, behalwe om in my kamer met sy toegetrekte gordyne te sit. Ek voel moreel alleen..
Partymaal slaan die son deur die gordyne en hoor ek al te helder as die voëls sing, die honde blaf en die vliegtuie daarbo in die lug dreun, dan word ek weer opgewonde, kry ‘n koerant en soek deur die Betrekkings. Daar is net die werk vir my. Hulle soek Interior Designers by die OK Basaars, daar is allerhande byvoordele plus a uniform. Dit alles klink goed. Ek bel die mense. Dit is winter. Ek moet hulle die volgende dag om elfuur gaan sien.
Met etenstyd kom ou vriende van my onverwags kuier.Ek het baie plate. My vriend en sy meisie is daar met hulle bandopnemer. Ons praat dat die spoeg by ons monde uitspat. Op die oomblik toe ek ‘n ou grappie oor die uniform van die OK Basaaradvertensie maak, kom my ma by die vertrek in. Sy interpreteer my grappie as ‘n weerstand teen die werk en ‘n weerstand teen hulle gesag.. Sy begin huil en sê: “Jy wil nie regtig werk nie, jy moet maar self sien en klaarkom.” Ek kon nie eintlik antwoord nie. Dit is ‘n bedekte dreigement dat sy my nie môre vir die onderhoud sal neem nie.
My pa moet die volgende môre sesuur reeds na Westonaria vertrek.Ek ry toe maar saam met hom. Met die adres in die hand soek ons straat na straat na die plek. Dit is reënerig en fokken koud. Die ou bitch was al weer te suinig om haar petrol te gebruik. In die industriële gebied kry ons die OK-stoorkamers en -kantore. My pa laai my af sodat ek met my Sondagspak op die sypaadjie voor die onpersoonlike gebou se deur staan. Daar moes ek wag tot elfuur. Ek het toe maar moed opgegee en die stad ingeloop.
In die omstandighede het ek my ma en pa se geld begin steel. As ek my pa se baadjie oor ‘n stoelleuning sien hang, dan neem ek vir myself ‘n gedeelte van sy perdegeld. Uit my ma se beursie steel ek altyd ‘n vyftigsent of ‘n rand. Ek bêre die geld in ‘n silwer boksie in my kamer tot ek genoeg het om ‘n plaat mee te koop. Ek reken die mense wat by die platewinkel werk, dink ek is mal, want partymaal betaal ek hulle met ‘n hele hand vol silwergeld.