Die telefoon lui. Dit is pa. Hy sê ma moet vir Pieter, my swaer, ook kos maak. Ek trek die gordyne in die sitkamer oop. Die son moet in. Dit moet die koue in my lyf en my hande verdryf. Ma soek na vleis in die yskas, hamburger patties, want Pieter kom ook.
Die haarknipper is stukkend. Sy skeer my hare met ‘n skertjie. Uiteindelik staan ek op en kyk na die agterkant van my kop deur ‘n tweede spieël op te hou.
Daar is ‘n algehele gevoel van verlatenheid, ‘n seer in die keel. My lewe het ‘n punt bereik waar ek nie meer kan vorentoe of agtertoe nie. Net die dood, maar ek is te bang vir geweld: die bloed wanneer die pols gesny word, die uitmekaarruk van die lyf wanneer dit die grond tref, die maagpyn na gif, koue seewater.
“Maar wat is erger as die alleenheid in jou woonstel,” vra ek aan myself. Hoe het ek hier gekom? Die lyf wil nie beweeg nie. In Durban wag hulle vir my om leiding te gee in die toemaak van my skool: die Skool van Tale. Hoe kan ek? Die dekaan het byna hulpeloos gebel. Hy soek na statistiek en getalle, oorsig van lesingladings. Ek kan vir hom niks gee nie. Sedert die aar gebars het, is inligting nie sommer beskikbaar in my kop nie.
Ek het in die hospitaal na myself gekyk en verbaas gedink dat ek eintlik anderkant die dood lewe.