Die rooi merkies op my lyf is seker hoenderluisbyte. In die vyf jaar wat ons op die plaas blynet deur, het alles verander. Die gras is netjies gesny. Die kakiebosse het heeltemal verdwyn. Dit was nie maklik om hulle te vervang met ‘n bietjie beskawing nie. My ma het baie soorte blomme geplant: Kannas, Varkore, Afrikaners, Kappertjies en sy het ook struike geplant. Die huis self het nuut geword. Drie badkamers is aangebou. Dit is ‘n bietjie vreemd, die een is aan die spens gebou en die ander aan ‘n gastekamer. ‘n Muur is uitgekap om die sitkamer groter te laat lyk.
Die diere het ook vermeerder. Eers het ons net een Vrieskoei gehad. Martha was haar naam, toe laat ons haar met oom Stoffel se bul dek. Vir ‘n lang tyd was sy ons enigste voorsiener van melk. Sy het toe ‘n bulletjie gekry. Ons het nog twee versies gekoop. Martha het opgeblaas van tulpe eet en het doodgegaan. Dit was ‘n treurige dag. Sy het soos ‘n ballon voor die kombuisvenster gestaan met skuim wat by haar mond uitkom en toe net omgeval. Elk geval vandag het ons al ses of sewe groot beeste en vier kallers en ons verkoop melk aan al my ma se vriendinne. Partymaal steel ek die melkgeld om vir my ‘n plaat te kan koop. Soos ons koeie het ons skape en hoenders en varke en kalkoene en makoue meer geword. Dit is net moeilik om met die eende en ganse te broei. In die somer dan is daar altyd luise en vlooie en muskiete op die plaas. ‘n Mens kan niks daaromtrent doen nie.
My storie gaan eintlik oor vanmiddag toe ek alleen by die huis was, toe het die hele plaas mal geword en dit net deur die onnosel fokken bul wat alles voor sy oë bestorm: bome en drade. Hy’s amper net so hardkoppig en onnosel soos my pa wat op sy arbeiders skree dat die are in sy kop rooi word.
Ek het vir my ‘n eier in warm olie gebak, die olie was al ‘n bietjie warm. Toe maak ek ‘n eiertoebroodjie. ‘n Vriend het my daarna gebel. Die mossies het sulke angstige geluide gemaak. My vriend het net onlangs terug gekeer van Griekeland. Hy vind dit seker baie vervelig omdat alles nog dieselfde is.
Elk geval ek het so gesit en niks doen nie, toe word daar aan die voordeur geklop. Die huis was donker met my alleen. Ma het die gordyne toegetrek voor sy weg is. Dit was omtrent half-ses. Pa sou my later die dag baie kere vra hoe laat dit was toe alles gebeur het.
Wat de moer klop Josef nou weer aan die voordeur. Hy wil seker ys hê. Ek sien hy en Samson hardloop elkeen met ‘n sak. Ek dog hulle is besig om mekaar te jaag.
Wat is dit? Die grassnyer staan alleen op die gras. Hulle beduie na die kampie. Die koeie hardloop wild rond. “Dit is die bul,” beduie hulle.
“Wat van die bul?”
“Die bul het ‘n byenes omgeskop.”
Ek sien hoe sulke swart kolle deur die lug skiet. Die bul hardloop soos ‘n maniak al langs die draad. Al die koeie hardloop en maak bokspringe. Sulke stringe bye hang aan hulle. Hulle breek deur die klein kampie waarbinne hulle gestaan het. Dan begin die skape hardloop en die hoenders van ons werkers.
Dit was soos ‘n visioen.
Ek kon nie my lag hou nie. Iets binne my het my gewil om te lag. Maar dit was ernstig. Alles op die plaas kon vrek.
“Gou! Gaan jaag die hoenders in die buitekamer en kan die hekke van die groot kampe nie oopgemaak word nie?”
“Ons sal hom die skape nie meer kry soos hy sal hardloop nie,” beduie Josef.
Ek kon niks doen nie. Niemand kon niks doen nie. Ek het die voordeur gou toegemaak en gaan sit. Ek kon nie besluit of ek na Pink Floyd wou luister nie. Ons twee honde het klaarblyklik die opgewondenheid in die lug aangevoel; Pippie, ‘n teef, het ou Kameel, die mannetjie in die hol bygekom. Dit was ‘n bietjie abnormaal, hulle het allerhande bokspringe in die huis begin maak.
Toe gaan skakel ek maar radio Hoëveld in die buitekamer aan en trek die gordyne oop. Skape en koeie het in die lusernland sonder rigting gehardloop. Vandag vrek alles, sommer so skielik en sonder waarskuwing.
Ek het my ma probeer bel, maar sy was nie by haar vriendinne nie. My pa se werk het gedink ek skeer die gek. Ek het vergeet hy is Welkom toe. Toe sit ek maar en wag.
Voëls het uit die hemel geval.
My pa word vandag weer gestraf omdat hy sy werkers so sleg behandel, het ek gedink en ek kon nie ophou om te lag nie. Ek weet nie wat is verkeerd met my nie.
Toe het ek vir my badwater gaan intap. ‘n Eensame by het teen die venster gebzzzz.