Op pad na Durban, 13 November 1976, het ek die Heilige Gees
In ‘n plastieksakkie gevang; die nag
Was donker;
Onheil; ek het hoendervleis
Op my arm gehad.
Vanmiddag, 23 Desember 1976, laatmiddag, in die blou skemer,
Het ‘n Swartman, baadjie-oor-die-kop onder die bloekombome gestruikel
Voor die weerlig.
Ek het, op pad na my kamer tussen baie makoue en hoenders,
Geneurie: “One cannot always go on riding a
Wooden horse.”
My pa wil ‘n ordentlike mens van my maak:
‘n Mens met ‘n papiertjie – die graad
Moet in sy moer in vlieg, pa.
Ek word nie deur papiere gekoop nie.
Ek wil nie ‘n seun wees wat met ‘n ordentlike salaris,
‘n Pensioenfonds en ‘n mediese skema
In die hemel kom nie.
Die pad verstyf.
‘n Soldaat vlieg in stukke.
Ek sal in die hemel kom, pa,
Met net ‘n plastieksakkie: Heilige Gees in ‘n kondoom. In die
Hemel
Speel boemelaars trompet,
Loop ‘n Heilsleër-blaasorkes verby,
Hinkepink
Afbene, een oë, melaatses en vertraagdes
Soos afkophoenders
En in die sakkie
Het ek die Heilige Gees.
Wat gaan ek maak met die Heilige Gees?
Ek gaan hom vat na die hemel
En hom loslaat vir die blindes en kreupeles
Om te vang.
Hierdie Heilige Gees
Sal op die skoot van ‘n eensame in die park
Sit.
‘n Kind met gelapte klere
Sal hom broodkrummels voer.
Kom konings van die langpad.
Kom elkeen, kom laat ons praat en sing met die vlam op die tong.
Kom laat ons die wêreld aan die brand steek met woorde:
HEILIG! HEILIG!
HEILIG! HEILIG!
HEILIG! HEILIG!
Heilig is die verlosser
Met die Heilige Gees in ‘n plastieksakkie.