Wieretuin

Ohlhoff se hempsmoue is los

Hy praat stadig

Asof hy van sy eie stem hou.

Party woorde beklemtoon hy,

Ander mompel hy:

‘Ek is hier’ sê ek en kyk

Neer op die omgekrapte vertrek. Ek voel

Tuis in die donker gang…

‘Dit is ‘n lekker plek wat jy hier het’

Sê ek en gaan sit

Op ‘n stoel in die hoek…

‘Jy lyk mooi…’

Die sigaret wat ek aansteek

Val per ongeluk uit my vingers uit.

Ohlhoff soek ‘n pakkie sigarette

In die denimsakke wat oor ‘n stoel hang

En steek een op.

… Ek wil haar beheer.

Ek wil haar op die lug laat dryf,

Om in die grond te verongeluk…

Buitekant die woonstelventer: straatligte, winkelligte.

Mense staan voor winkelvensters…

Party loop alleen…

Iewers in ‘n woonstel borsel iemand tande…

Iemand sluit ‘n deur oop…

Iemand luister radio…

Iemand maak kos…

En ek sit sonder om veel te sê

Oorkant haar…

Ek dink die nag is anoniem. Ek wonder…

Sal ek aan haar sê die nag is anoniem?

Wat beteken ‘die nag is anoniem?’

Ek wil haar vertel

Van my ontsaglike las.

Ek sê nie veel nie.

Ek wil nie dat sy aan my raak nie…

‘Ek is dood’ sê ek.

Sy vat terloops aan my.

Ek  glimlag

Ek dink aan die verminkte bome in die park.

Ek dink hulle is dooie mense…

‘Waarom voel jy niks vir my nie?’ vra sy…

Ek antwoord nie,

Maar dink: ‘As ek iets vir jou sou gevoel het,

Sou jy my nie meer wou ken nie.’

Ek dink aan die aande

Wanneer ek alleen op die stasie sit…

Dit raak so stil dat ek die ligte kan hoor.

Ohlhoff is meegevoer.

Staan vir ‘n paar oomblikke doodstil.

Hy trek sy hemp uit.

Gaan sit op die bed,

Trek sy skoene uit.

Siteer ‘n brief:

Liewe Aletta,

Moenie glo

Dat ‘n werklike persoonlikheid hierdie brief geskryf het nie.

As ek alles wat in my is

Helder kon kry

Sou ek iemand gewees het.

Ek het giseraand gedroom ek is in ‘n bekende huis.

My ouma en tannies het in die sitkamer gesit.

Ek het sandspore oor die mat geloop.

Tannie Mara het geglimlag.

Ek het kriewelrig begin voel

En dadelik aangedring om die gemors op te vee.

Die spore het sandduine geword.

Ek het ‘n woestyn uit die huis probeer vee.

Onverwags was jy ook daar.

Ek het te teruggetrokke gevoel om jou te vra hoe dit met jou gaan.

Sedertdien het iets my begin pla.

Ek is te bang

Om jou weer te sien.

Ek kan nou minder as ooit

Op my eie twee voete staan.

Dit voel asof ek ‘n las is,

Asof ek iets onderbreek het.

Ek voel waardeloos.

Liefde,

Ohlhoff.

Ohlhoff frommel die brief op.

Hy mik en gooi dit na die mandjie.

Hy sit met ‘n sigaret.

Hy brand sy polse,

Begin mompel:

Kan ek die vrou

Hierbo vertel van hom.

Hy wat waardeloos is.

Hy is rusteloos.

Hy raak gou bedruk tussen mense.

Hy voel tog dat hy haar iets verskuldig is.

Blykbaar hou sy van hom

En moedig hom aan.

Hy weet nie waarom nie.

Hy het gevind dat sy ‘n sensitiewe, praktiese, welbedagte en mooi mens is.

Hy hou nie daarvan om mense te sê hulle is mooi nie

Tensy hy dit ironies bedoel.

Hy voel tog dat hy dit vir haar kan sê.

Hy glo vas aan die alleenheid van elke persoon.

As hy nietemin

Sy toegeneëntheid

Teenoor haar

Kan wys

Op enige

Buitengewone

Manier

Sal hy dankbaar wees om dit te doen.

Hy glo dat hy afgesonder moet word van die mense waartoe hy aangetrokke voel.

Hy glo hy moet aan homself dink en vergeet van ander.

Hy kan net homself wees

Wanneer hy weet dat hy vir niemand ‘n las is nie.

 

Ek is jammer.

Ek hou nie daarvan dat Madelein jou so ontstel nie.

Jy moet meer selfsugtig wees in jou omgang met mense.

Sal jy seergemaak voel as ek nie meer vir jou kom kuier nie ?

Ek wil jou eenkeer’n week sien terwyl ek siek is.

Dit is moeilik. Ek hoor stemme hier.

Dit is moeilik om weer by die huis te kom.

Veral in die nag.

Partymaal werk die telefoon nie

Ohlhoff glimlag.

 

Ek het ‘n muur geword.

Ek het ‘n stofsuier geword.

Daar is iets.

Hulle maak haar dood.

Hulle dwing my om skynheilig te wees.

Ek hou nie daarvan nie.

Ek hou nie van Madelein nie.

Sy forseer my om skynheilg te wees,

Waarmee niks verkeerd is nie,

Maar ek is nie ‘n goeie akteur nie.

Madelein skep die indruk dat sy in beheer is.

Dit is

Histeries.

Sy lei aan ‘n minderwaardigheidskompleks.

Sy het ‘n behoefte om ander mense te beheer.

Ek erken dat sy probeer om ‘n goeie mens te wees.

Sy kan gevaarlik wees.

Sy regverdig die sinloosste dade.

Sy is selfgesentreerd en fascisties.

Ek dink sy het ‘n baba desperaat nodig.

Om haar eensaamheid te verdryf moet sy

Beheer en besit.

Dit is vir haar maklik om liefde te gee

Aan troeteldiere: die apie en die hond.

Hulle kan nie redeneer met haar nie.

Hulle lewens is nie hemel op aarde nie.

Naweke en vakansies word hulle in die huis opgesluit.

Deur voor te gee dat sy ‘n rasionele en saggeaarde persoon is

Wat altyd in beheer is van situasies

En omdat jy ‘n behoefte het

Om iets

Vir iemand te beteken,

Om stil te wees by iemand,

Om saam te wees met iemand wat verstaan,

Vroue verstaan mekaar se donkerste wense,

Het sy jou gevange geneem.

Sy sal jou altyd skuldig laat voel.

Jy sal nie meer weet wat jy vir jouself wil hê nie.

Ek raai dit net.

Jy het my vertel

Dat jy haar eenmaal uit frustrasie geslaan het.

Sy het net stil bly sit.

Ek is jaloers; iets wat ek nooit ontken nie.

Dit is ‘n natuurlike gevoel.

Ek kan selfs jaloesie geniet en na myself kyk.

Ek vermoed dat ek jou nooit so lief kan hê soos sy nie.

Ek voel oor haar soos oor meeste mense.

Ek vertrou mense nie.

Ek steek myself weg agter selfgesentreerde gesprekke.

Dit is die maklikste manier

Om mense te verveel.

Hulle verloor belangstelling.

Ek voel te aangetrokke tot jou.

Ek is bang.

Ek gee myself weg.

Ek kan jou slagoffer word.

Aletta, ek haat jou.

Ek moet myself verbeel ek is jou meerdere.

 

Stilte vir ‘n rukkie.

 

Dit voel asof ek ‘n moord gepleeg het.

Daar het iets tussen ons gebeur.

Ek het haar nie meer lief nie.

Sy het ‘n skaduwee geword.

Ek wonder of sy ooit bestaan het.

Dit voel asof ek ‘n moord kan pleeg.

Daar is niks waarmee ek besg kan bly nie.

Daar is niks waaraan ek glo nie

Dit voel asof ek myself moet brand.

Dit voel asof ek iemand moet doodmaak.

Partymaal voel dit asof ek jou moet ruk

Sodat jy kan lewe.

Partymaal staan ek so stil

–         ‘n Parkeermeter voor die woonstelingang.

Waarom het jy nooit niks vir jouself te sê nie …

Die woonstel is ‘n graf

Waarin jy jouself begrawe het.

 

Madelein het selfmoord gepleeg.

Ek het nooit van haar gehou nie.

Waarom het sy dit gedoen?

Ek kan julle hoor.

Julle is daar.

Waarom kom kuier jy nie meer vir my in jou hemel nie?

Sy het ‘n gesig gehad soos ek.

Madelein is dood en ek is dood.

Madelein het in ‘n boom gehang.

Ek wou nie meer lew

Met Madelein en Ohlhoff nie.

 

Het jy al gedink aan die dood…

Ek bedoel het jy al daaraan gedink om iemand dood te maak?

Het jy al daaraan gedink hoe dit voel om iemand dood te maak?

Ek het al daaraan gedink.

Miskien is dit omdat die dood nie vir my ‘n werklikheid is nie.

Miskien glo ek nie aan die dood nie.

Dood is beeldspraak.

Dit is ‘n manier van sê ek is eensaam.

As ‘n mens eensaam is, is jy nie dood nie.

Eensaamheid voel ‘n mens.

Ek wil iemand doodmaak.

Dit is beeldspraak.

Miskien sê ek, ek wil iemand eensaam maak.

 

Ohlhoff het vanmôre sy jeans aangetrek

Met blou sokkies.

Hy wou sy ou grys skoolkouse aantrek,

Maar het daarteen besluit omdat die kouse

Na sy mening sy voete deur die dag te moeg maak.

Hy het ook ‘n wit hemp met blou strepe

Aangetrek en ‘n groenblougrys baadjie wat hy al van skooldae af het.

Ohlhoff het toe in die spieël gekyk

Of die baadjie hom nie te belaglik laat lyk nie.

Ohlhoff is baie gesteld daarop

Dat hy nie belaglik moet lyk nie.

Sy skoene het hy omtrent nog nooit

Geborsel nie.

 

Hy het die laaste deel van sy monoloog geskryf

Voordat dit gebeur het,

Omdat hy geweet het dat dit so onvermydelik sou gebeur.

Almal wat liefde

Aan Ohlhoff gee word vernietig deur hom, in hom.

Na Madelein se selfmoord

Het hy alle vertroue in sy medemenslikheid verloor.

Dit was so onvermydelik dat dit moes gebeur,

Ook dat hy Aletta vernietig het.

 

DAAR IS STRUIKE IN DIE TUIN.