Poging tot Moord

Die 25 ste  Oktober, 2002, is daar ‘n aantekening in die boek wat deur die deurwag gehou word hier onder. Dit was toe Faith hier besoek het. Sy moes haar naam teken. Sy was blykbaar baie ongelukkig daaroor. Die deurwag het vir iemand gesê dat hy daarop aangedring het. Het ek die vorige Sondag na haar kind gekyk? Of was dit ‘n ander Sondag? Hy kan nie meer onthou nie. Alles is deurmekaar.

Waarom het ek vir mense laat dink dat meer as een persoon my aangeval het? Dit was wat ek in ‘n beswyming in die hospitaal aan Hendrik gesê het. Het ek dit gesê?

Blykbaar nadat sy my hier vir dood agtergelaat het, het die vrou hier anderkant by die trappe, van die lawaai, na haar deur gekom. Faith het haar, blykbaar, gevra vir ‘n sigaret en toe eers ‘n sigaret gerook.

Sy is hier in die straat langsaan gesien met die Nigeriers?

Sy het blykbaar twee keer geklop. Gewoonlik het ek met my deur oop geslaap. Maar die dag was die deur gesluit. Ek het blykbaar ‘n aanval verwag. Ek is deur iets wat Faith, of was dit iemand anders, gewaarsku. Iets wat sy vir haar kind gesê het. Waarom kan ek nie die detail van die dag onthou nie? Die dag was die deur toegesluit. Ek het nie gedink aan die krag van ‘n bedwelmde vrou nie. Sy het geklop en geklop. Ek het geslaap. Sy is terug na die hysbak waar sy  die vuurblusser gesien het en die gedagte dat sy die deur daarmee kan  oopforseer deur haar gegaan het. Sy het die vuurblusser toegedraai in ‘n Air France handdoek-kombers wat sy by haar gehad het en teruggeloop na die deur wat sy oopgestamp het met die vuurblusser toegedraai in die handdoek-kombers en ingekom. Sy het die vuurblusser op ‘n  bank in die sitkamer neergegooi. My skerp mes in die kombuis gegryp en na die kamer gekom waar ek nog gelê en slaap het. Sy het verwoed iets op my geskree: “Don’t you hear me when I knock!” Ek het in die bed met my gesig in die kussing iets gesê. Sy het my verwoed gesteek hier-bo in my skouer.  Met my bloed wat my rug afloop, is ek na die sitkamer. Ek het gevra wat gaan nou aan. Sy het verwoed die vuurblusser na my kop geslinger en getref. Die vuurblusser en die Air France handdoek-kombers het hier op die vloer gelê. Die gewig van die vuurblusser was teveel vir my kop. Ek het weggeraak in ‘n wêreld van slaap en eers weer beneweld wakker geword ‘n ruk later. Sy het in my kamer gesoek na die geld wat ek die vorige nag getrek het en my kamera. Toe ek weer by my bewussyn was, was sy al weg. Sy het blykbaar geloop tot by die woonstel hier onder in die gang en vir die vrou wat bang by haar deur gestaan het gevra vir ‘n sigaret en ‘n paar trekke gevat en is toe weer vort.

“I always told you that she was on drugs” says Zaza.

“No you didn’t” I reply

“I saw her at Cool Runnings the other night. Dancing”

“With who were she dancing”

“With herself” sê sy voordat sy loop en ek dink aan Faith wat met haarself dans.

Ek weet nie eintlik wat gebeur het nie. In die gang het ek die man wat oorkant my bly, gevra of hy my hospitaal toe sou neem. Ek moes my klere aangetrek het. Wanneer het ek my klere aangetrek? Was dit terwyl Faith hier was? Toe ons in die sitkamer was? Ek moes by tye by my positiewe gewees het. Ek kan niks van hierdie nag onthou nie. My eerste herinnering is baie deurmekaar. Ek was in ‘n kar wat my by hierdie “plek” afgelaai het. Die plek onthou ek nie as ‘n hospitaal nie. Dit het eers later ‘n hospitaal geword. Ek onthou die boom en die hoek wat sigbaar was van my kamer buitekant. Dit is al. En ek onthou Hendrik se Christelike vriend, Markus, wat my kom sien het in die hospitaal. Ek het hom vertel dat daar ‘n funksie die aand gaan wees en het hom gevra of hy ook gaan. Dit is al wat ek van die tyd kan onthou.

Faith is volgens Heinrich op kampus van Natal-Universiteit gesien. Hy het gesien hoe ‘n man wat daar gesit het ‘n opmerking maak. Sy het onderlangs vir haarself iets gesê en toe voortgeloop.

Vrae wat my bybly is: Waarom het ek gedink Faith gaan my daardie oggend aanval. Was dit haar stelling aan haar kind dat sy my die dag voor ek opstaan gaan kom sien? Het sy dit gesê? Waarom sou sy my so vroeg kom sien? Waarom het hierdie dag soveel gevaar vir my beteken? Waarom wou ek nie doodgaan nie?