Ek stap die ander dag

1.

Ek stap die ander dag in een van die stegies af en vreemde dinge gebeur: ‘n Bedelaar bedel my

pine nut-koeldrank uit my hande uit. Ek weet dat bedelaars vir geld bedel. Dit is die eerste keer

dat iemand oorskietkoeldrank van my af bedel. ‘n bietjie verder aan gryp ‘n swart man my hand

en skud dit asof ek hom al jare ken en fluister “You want ghanja, hashishi or cocaine.” Ek is uit die

veld geslaan. Is ek al so in die vrymoedigheid van die omgewing geïntegreer.

 

2

 

By die Universiteit van Durban-Westville het die tale-departemente saamgesmelt in ‘n  Skool vir Tale,

maar met die opdrag daar moet “programme” saamgestel word. Die staat gaan in toekoms net programme

met duidelike “uitkomste” finansier. ‘n Program is blykbaar ‘n stel modules wat uiteindelik ‘n bepaalde werk vir

studente verseker: so taaldosente moet inderhaas van identiteit verwissel sodat hulle vertalers, toeristegidse,

uitgewers en  joernaliste kan oplei. Verder word die eis gestel dat daar meer as dertig studente in die klas

moet wees (in werklikheid ‘n eis dat daar meer as 400 studente in die klas moet wees).

Dit gebeur in ‘n konteks waar die mense van Suid-Afrika grootliks ongeletterd is: nie net ongeletterd

in die opsig dat hulle nie die vermoë het om te lees en te skryf nie. Ook ongeletterd in die opsig dat kennis van

die wêreldgeskiedenis, van die ontwikkeling van denke, van die wetenskap, die interpretasie van tekens (in film,

televisie, advertensies) heeltemal afwesig is. Begripsvermoë strek sover as identifikasie met sportspanne. Dit beteken

dat baie eenvoudige slagspreuke bepalend is en het die gevolg dat werklike demokrasie, ‘n tolerante bevolking

en kritiese denke onmoontlik is.

Die nuwe beleid met betrekking tot universiteite gaan die gevolg hê dat hierdie ongeletterdheid

drasties toeneem. Watter gesofistikeerde land sal toelaat dat die bestudering van die eie letterkunde, en die

wêreldletterkunde, van die tafel gevee word? Is dit nie krimineel nie? Is ‘n bydrae tot die literatuur, meer as

net ‘n bydrae tot die nasionale kultuur, nie ‘n bydrae tot die wêreldkultuur nie? Waarom onthou die wêreldgeskiedenis

so goed sy kunstenaars, terwyl die name van die politici in die vergetelheid verdwyn?    Waarom bestudeer

Sjinese Shakespeare? Of Duitsers Wole Soyinka?

Die politiek, die sosiologie, sielkunde, antropologie werk met hoogs vereenvoudigde konsepsies

van die werklikheid en met die basiese opposisie van normaal en nie-normaal. Dit omvorm die mens in ‘n eenvormige

kleinburgerlike gestalte. Een van die sentrale aspekte van die kleinburgerlike bewussyn is klassifisering: d.w.s. die proses

waardeur die eenmalige sy identiteit van ‘n groep verkry, waardeur die eenmalige gelykgestel word aan ‘n groep. Dit is basies

verwant aan die demokratiese proses waardeur mense verteenwoordig word: die politieke party verteenwoordig die massa.

Die gevolg is dat die politieke krimineel nie alleen in sy misdaad staan nie, maar dit die misdaad van die groep word, en alles

wat verbind word met die groep in die teken van die smet staan. Dit veronderstel die onvermoë om genuanseerd te dink.

Om te stem is om medepligtige te wees.

Die literatuur se funksie is om die ongenuanseerde vorm van denke tee te gaan; dit maak nie handeling moontlik nie:

dit kan nie ‘n bevolking tot oorlog oproep nie, want dit kom met ‘n dosis twyfel. Dit kan nie saamspeel met die sosiale

wetenskappe in die beplanning van die gemeenskap nie: want dit relativeer elke posisie; dit ondergrawe en lag in

essensie. Dit laat die mens hulpeloos. Dit kan nie afbreek nie, maar gryp die veelheid van aftakeling en groei aan.

‘n Renaissance is die herontdekking van die genuanseerde en komplekse (die herondekking van die antieke

mites en veelgode in teenstelling tot Middeleeuse dogma): in Suid-Afrika die herontdekking van die Afrika-tale-literatuur,

en ‘n verwerping van struggle-slagspreuke.

Miskien is die uitstoot van die literatuur aan die universiteite die eerste stap om literatuur en die lewe te herenig, om

dit los te maak van die instelling. Universiteite dra die smet van politiek, van simplistiese magspeletjies. Die universiteit is die

vyand. Laat ons weer onder ‘n boom gaan sit, of iewers grys op ‘n straathoek met die  oë gerig op die veelheid van menslike

ervaring.

 

3

 

Fekile is dogter van ‘n huiswerker en het ‘n baie wye verwysingsveld, want sy het die ensiklopedie in die huis waar haar

ma werk woord vir woord verslind. Is dit waar dat daar ‘n verband tussen die Boesmans en die Sjinese kan wees, vra

sy my. Sy het ‘n obsessie met die Boesmans as die eerste mense in Suid-Afrika. Fekile is ‘n hoer. Sy het nie juis ‘n keuse

nie. Sy is soos so baie ander. Kan nie werk kry nie.

By die Apostoliese Sendingstasie, Dassenhoek, versamel die uitgeteerde lewende dooies wat by die dag

vermeerder: cholera, maagkoors, vigs, waansin. ‘n Beeld van die hel. Met al die ideale en programme en bloudrukke

het die ANC-regering ‘n krisis geskep, ‘n fascistiese dissipline soos hierdie land nog nooit gesien het nie. Honderde

duisende mense sonder werk, en met nuwe wetgewing oppad gaan die getalle nog vermeerder. Dit is nasionalisme: die

welvaart van die Staat is belangriker as die mens, die instelling moet beskerm word teen die mens. Die kleinburgerlike

beeld. Gaan affirmative action oor die bemagtiging van ‘n klein klassegroep sodat miljoene vir hulle kan sterf? Die ideaal

en die werklikheid. Hoeveel werksgeleenthede is al vernietig deur die beleid? Hoe lank gaan dit neem voordat die

Suid-Afrikaanse bevolking in hulle massas in opstand kom? Op die oomblik raak mense nog histeries oor die ideaal

en hulle verstaan nog nie mooi die verwikkeldheid van wat met hulle gebeur nie: hulle het nog nie deur die imaginêre

van die politieke diskoerse gesien nie. Of is rewolusie die domein van die kleinburgery: geletterd en wrokkig?

Die verval is terselfdertyd die rykdom van die land.

Ek sê Fekile moet ‘n skrywer word. Waaroor moet sy skryf, vra sy. Begin jou boek met seks. Mense hou

van seks. Sy kan nie daaroor skryf nie, sê sy, want sy het nog nooit seks met liefde ervaar nie. Dit is vir haar te afstootlik.

Dit is haar werk. Presies, skryf daaroor.

Die kerk is nog ‘n anker. Die Bold and Beautiful is ongelooflik gewild en die selfoon. Ek soek ‘n gids na die hel,

want iemand sterf. Maar almal waarsku my. Daar is te veel mense wat sterf, maar ek wil haar sien voordat alles verby is.

Nee, jy mag nie gaan. Oor ek wit is, vra ek. ‘n Glimlag is die antwoord.