Daar is groot verwagtinge

Daar is groot verwagtinge hier in die Bazaar vir die miljoene rande wat Durban

gaan instroom die opkomende Comrades-naweek. Want die ekonomie hier is

morsdood. Sommige van die winkeleienaars blameer dit op die krisis in Zimbabwe,

ander op die stygende petrolprys. Die waarheid is egter: die ekonomie is dood soos

‘n mossie. Daar is ‘n ontnugtering met die politiek soos nog nooit tevore nie. Ek sou

iemand wat ‘n politikus wil word, graag waarsku. Die mobs begin ongeduldig raak,

en die vyand is duidelik: dit is nie ‘n bepaalde party of ideologie nie: dit is politici, dit is

die instelling van politici.

Ek sit in Costa do Sol, my stamkroeg hier onder in Wes-straat, net ‘n blok

weg van die see. Ek was lank laas hier. Ek sit in die donker hoek met Charity. Ek

vra of sy nog in haar luukse woonstel, Casablanca, op die Suid-Strand woon. Nee,

sy is nou in Crown Court net om die draai, antwoord sy. Die Duitser, die een met die

bierpens wat altyd hier buite saam met sy Duitse pêlle om ‘n tafeltjie gesit en praatjies

maak het met die dames van die nag om ‘n glas bier, is dood blykbaar van ‘n hartaanval

terwyl hy op die job was met een van die dames. Charity het in sy woonstel gebly.

Hy was een van die gulhartige mense. Sy vertel van die krisis. Sy hou nie van lyke

nie. Haar vriendin het uitasem vir haar kom sê: “Frank is dood, Frank is koud”. Daar

lê hy met sy bleek bierpens en sy horing wat nog styf is op Charity se bed. Dit was Frank

se woonstel, maar al haar meubels. Ek vang Charity se oë rooi van die rook en drank.

Sy het in twee maande verouder. Sy was die enigste van die meisies wat dit na

sy begrafnis gewaag het. Sy vertel die mense het haar aangestaar. Sy gee nie om nie, want

sy het Frank al van jare terug geken. Hy was daar toe sy, nog ‘n jong meisie,

vir die eerste keer besigheid begin maak het in Durban se strate. Hy was soos ‘n pa

vir haar. Ek dink aan die hool, Costa’s, en die mense hier is soos ‘n familie. Die ou

mans en die meisies. Almal was al met almal in die bed. Almal ken almal se mees private

geskiedenisse. Charity vertel van haar gesukkel om haar meubels uit die boedel terug te kry.

***

Boggelrug met dun beentjies wat uit sy kortbroek in sy sokkies en skoene steek kom blaai

die ou mynkaptein deur die rommel hier in Bohemian Books, ons nuwe donker boekwinkel

hier in die Bazaar, in Gillespiestraat, net oorkant die Four Seasons Hotel.  Die Four Seasons

is onlangs gelikwideer en ‘n stukkie van die karnavaleske geheue van Durban is tot niet.

Bohemian Books is ‘n plek waar ek van my verlede en my materiële obsessies ontslae kan

raak soos die ou man, ‘n kliënt met ‘n allemintige moesie op sy voorkop, van sy versameling

vliegtuigies moes ontslae raak toe hy Durban toe verskuif het. Hy vertel hoe hy gesuip het

met sy afskeidspartytjie en “My Way” vir die gaste gesing het. Daar is net een kunstenaar

wat “My Way” kan sing, verklaar hy en dit is Frank Sinatra. Hy vertel van sy versameling

Swing-plate, van sy boeke oor die Anglo-Boereoorlog en oor Hitler en Rommel. En hy

admireer die glans-fotoboek oor Mandela se lewe op een van die tafels. Ons moet dit

asseblief vir hom hou tot more of oormore of een of ander tyd in die toekoms. Hy het

baie respek vir die ou man wat sewe-en-twintig jaar op die eiland was en nie bitter was

toe hy die bewind oorgeneem het nie.

Ek is arm soos nog nooit tevore nie. Daar is geen geld in my krediet- of

tjekkaartrekeninge nie. Ek het my oortrokkefasiliteite heeltemal uitgewis op Zaza. Ek wil nie

eers aan Zaza dink nie, of aan myself en die waansin van die afgelope paar maande nie.

Ek wys vir die ou man André P Brink se boek Portret van die vrou as jong meisie.

Hy kan nie meer die fotos van jong naakte vroue waardeer nie. Dit maak hom mal sê hy.

Hy sal enigiets gee om sy eie vrou uit die dood terug te win. Sy dogter kry vir hom

ou swart en wit Hollywood-films op video en hy bring sy lewe deur voor die televisie-stel. Hy

sal  terugkom vir die boek oor Mandela. Die Bazaar is dood, die land is ekonomies dood.

Niemand het geld nie. Die musiekwinkel-eienaar uit Tseggeslovakeie met die snor en krul

hare kla oor die afgelope twee maande se ekonomiese stilte. Op die toonbank lê sy

Malteserhondjie rustig en slaap. Vir drie dae was daar nie een kliënt in my winkel nie.

Behalwe Dinsdag het ‘n boer uit Pretoria met ‘n bierpens ‘n swartraam-bril,

kortbroek en snor hier ingestorm en R300 se boeke gekoop. Een oor Livingstone se reise.

Ek kon weer petrol in die kar gooi, en ‘n bietjie lugtyd koop. My roman Man-Bitch is klaar

en afgerond maar ek ken nie die Engelse Uitgewerswêreld nie.  Wie lees nog? Al die akademici

wat gelees het is afgedank, niemand soek meer boeke oor Suid-Afrika nie, diskoerse oor

Apartheid is uit die mode en so ook die koloniale verlede: Die Africana-mark is dood.

Niemand stel meer belang nie. En Afrikaans: het daar ooit ‘n boekemark vir

Afrikaans bestaan? Miskien is Durban te ver verwyder van ‘n boekemark: mense sweet en

drink bier hier, en raak gou verveeld. Haarkappers uit Kenya, Nigerië, Kongo neem orals oor.

Daar is ‘n mark vir haarkappers. Meeste boeke wat die afgelope twee weke verkoop is,

is obskure filosofie-boeke. Die paar filosowe in Durbankoop boeke.

Sondag. Sewe-uur. Ek is oppad na die vlooimark. Miskien is ek meer gelukkig daar.

Ek dra die swaar kartondose-boeke na die gereserveerde tafel. ‘n Wolk hang donker oor

die strand en die stad. Net na ek uitgepak het begin die motreën en ek moet weer pak en

hardloop met die boeke na iewers onderdak. Daar hang ‘n   reënboog

oor die stad. Later  reën dit terwyl die son skyn. Jakkalsreën het ons dit kleintyd genoem.

Uiteindelik skyn die son weer en ek kan my plek gaan inneem. Maar die vlooimark is

dood. ‘n Vrou uit Rusland het ‘n honger na boeke, maar sy het nie geld nie en kla oor

Suid-Afrikaners geen belangstelling in literatuur, musiek en teater het nie. ‘n Muslim-tannetjie

uitgedroog soos ‘n wingerdstok kom vra oor kruie-boeke. Uiteindelik kom my geluk.

Twee ou kêrels. Hulle was seker saam in die Springbok-legioene. En ek dink daar is meer

as net ‘n lewenslange vriendskap tussen hulle. Hulle komplimenteer my oor die

tipe boeke te koop by my stalletjie. Hulle koop die glansboek oor Mandela, lag vir die foto

waarop gesig van ‘n ou vriend van hulle verskyn: Joe Slovo. Die een ou  kêrel het net een tand

wat soos ‘n haaitand sy tandvleise versier en hy praat onophoudelik. Uiteindelik, en hy fluister

agter sy bakhand, soek hy rigtingaanwysers na daardie plek waar hulle pragtige jong meisies kan

ontmoet; die Costa do Sol wat ek vir hulle opgetower het as die lushof waar die mooiste

dames in Durban te koop is. Gemeensaamheid met ‘n pragtige jong vrou beteken seker veel op die

afgetakelde ouderdom.

In die volgende week is die haaitand by my winkel. Hy koop een van my Dassie-boeke.

(Die Dassie-boeke is ‘n reeks Suid-Afrikaanse tekste in sagteband  deur die CNA uitgegee in

die vyftiger en vroeë Sestigerjare). En weer vra hy die pad na Costa’s.

Brian ontdek my winkel. Hy was bekend as die “bald-and-bearded bookworm”

in die ou dae. Hy het ‘n stalletjie op die vlooimark gehad toe tye beter was. En ons ruil annekdotes

uit. Ek vertel van die ou wat hier was op soek na ou boeke. Die boeke moet oud lyk, selfs verinneweer.

Dit is om sy nuwe kroeg in sy huis te versier. Hy is hier weg met die sewe volumes

van Havelock Ellis se Encyclopaedia of Sexual Behavior. Hy vertel op sy beurt van ‘n ewe

obsessiewe versamelaar van ou boeke in leerbande en vergulde letters. Die ou het al die boeke tot

‘n bepaalde grote deurgesaag sodat dit netjies op sy nuwe rake kon vertoon. ‘n Amerikaanse

kliënt kom die winkel binne. Hy soek die Afrikaanse weergawe van die Wizard of Oz.

Hy het die boek in ongeveer driehonderd tale, en nou soek hy die Afrikaanse weergawe

(reeds uit druk uit).

Hulle is so dik soos hulle breed, soos hulle lank is: die Transvalers, en hulle marsjeer in

gesinne deur die kompleks op soek na iets om hulle nuuskierigheid te stil. Hulle reken oor die radio

26 miljoen rand gaan in die ekonomie van Durban inrol met die Comrades-marathon. Daar is groot

afwagting. Miskien is die hordes geletterd, miskien lees hulle, miskien het hulle ‘n honger

na boeke