‘n Gevoel van herkenning

‘n Gevoel van herkenning ril deur my rugstring by die lees van ‘n verwysing na die klub

Lusos in Maputo in ‘n ongepubliseerde manuskrip van Wopko Jensma met die titel Blood

and more blood . ‘n Bundel wat blykbaar tydens sy verblyf in Mosambiek geskryf is – van

die gedigte het later in sy debuutbundel Sing for our execution (1973) veskyn. Die wat nie

veskyn het nie was duidelik te gewaagd vir die tyd – met verwysings na die gewapende stryd.

Blykbaar is daar net 200 van Sing for our execution (1973) gepubliseer sien ek in my

getekende kopie. Ek het no.29 uit die 200. Klub Lusos is seker die bekendste nagklub in

Maputo. Was Luisa nie daar bestuurderes terwyl die mafia-eienaar sy orkes van uit die

tronk gedirigeer het nie? Ek onthou nog die warm aande van laas Desember. Luisa en Lusos.

Ek het Blood and more blood per toeval in ‘n literêre museum ontdek. Om meer spesifiek

te wees NALN. Hulle het eintlik self nie geweet hulle het dit nie. Ek het per toeval ‘n verwysing

daarna gesien in ‘n argief-katalogus. Hulle het nie genoeg personeel om alles in hulle besit deeglik

in hulle inventaris te kry nie. Ek besef daar, want ek het ook ‘n paar ongepubliseerde Ingrid

Jonker-gedigte daar ontdek dat Suid-Afrikaanse letterkunde-studente hulle tyd mors met al

die inhoudlose geteoretiseer oor die literatuur: hulle moet geforseer word om navorsing in die

argiewe en museums te gaan doen – daar is so baie van ons literêre nalatenskap wat daar

ontdek moet word. Ek is seker daar is nog heelwat ongepubliseerde werk van Jensma en

Jonker in die verskeie argiewe, biblioteke, museums en in besit van individue.

Ek sit hier by die Jazz-kafee op die Bloemfonteinse waterfront. Was pas by hulle

internetkafee. Ek dink aan die African Renaissance  en ek kom tot die volgende gevolgtrekkings

in my deurmekaar kop. Die African Renaissance is ‘n spookskim solank Suid-Afrikaners ‘n

verdeelde nasie is. Voordat daar ‘n African Renaissance kan wees, moet daar ‘n Suid-Afrikaanse

Renaissance wees, en voordat dit kan gebeur moet daar eers eenheid tussen wit en swart Suid-

Afrikaners kom – veral tussen Afrikane en Afrikaners.

In Durban en in Bloemfontein was ek by prysuitdelings by Afrikaanse skole, en dit het my

opgeval hoe lelieblank al die kinders by die skole is, en dit het my bewus gemaak van hoe apart

die Afrikaner nog leef. Die Afrikaner moet in sy skole uitreik na ander Suid-Afrikaners. Dit is een

van die boublokke van ‘n Renaissance wat almal gaan verryk in hierdie land.

‘n Ander boublok is ‘n Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns: ‘n Akademie wat

die beste navorsers, wit en swart, in Suid-Afrika verenig, wat ‘n forum van kontak is en wat rigting gee

met betrekking tot ontwikkelinge op skool en universiteitsvlak, wat beskermforum sal wees van die

kunste en wetenskap in die land.

Die Europese Renaissance het onstaan op daardie plekke waar Europa en die Ooste en

Afrika ontmoet het – dit het ontstaan uit die interaksie met ander dele van die wêreld – uit ‘n

oopstelling van die self aan die vreemde.

‘n Ander boublok van die Afrika-Renaissance is ‘n aangepaste Afrika-wetenskapsfiksie:

‘n genre waarin tradisies en bygelowe saamgedroom kan word met tegnologie en die toekoms.

Ek dink byvoorbeeld aan ‘n spoedtrein tussen die Kaap en Kairo met hutte, piesangbome en

woestyne al langs die spoor. So ‘n trein moet die kontinent verbind. Moet die draer wees

van die Renaissance.